Clanwilliam het deur die jare ’n ryk geskiedenis van rugbytalent opgebou – en tussen dié name staan een man uit: Izak September. ’n Seun van die dorp, gevorm tussen stofstrate en songebleikte balle op ’n plek wat almal as Die Tuintjie geken het.
Gebore en getoë in Oranjestraat, het September se rugbydroom daar begin, saam met sy broers – Boetie, Johny, Albert en Gerrit – en die kinders van die buurt.
“Ons het kaalvoet gespeel tot donker. Dit was ’n ander tyd, maar dis waar alles begin het.”
Van Sederberg tot Schoonspruit
By Sederberg Primêr het mnr. Jannie van Zyl sy talent raakgesien en hom as heelagter gebruik. Toe volg Schoonspruit Sekondêr in Malmesbury, waar hy as losskakel sy plek volstaan het – dieselfde posisie waarin hy sy stempel sou afdruk vir jare daarna.

Na skool het hy sy studies aan Bellville Onderwyskollege voortgesit en van sy eerste jaar af vir die A-span gespeel. Sy harde werk het hom ’n plek in die WP-Plattelandspan besorg – iets wat vir bruin spelers destyds die hoogste eer was.
“Hy het my ‘die hek’ genoem, want niemand het verby my gekom nie. Ek wou net elke wedstryd beter wees as die vorige een.”
Die stigting van Delicious Rugbyklub
Na sy kollegejare het September saam met ’n groep jong manne besluit om ’n nuwe pad te stap. Die span het gou bekend gestaan vir hul hardlooprugby – voorspelers wat so vinnig was soos agterspelers, en ’n spelstyl wat Clanwilliam laat gloei het van trots.
“Ons wou onder SARU speel. Dit was ’n groot besluit, maar dit het ons verenig. So is Delicious Rugbyklub in Clanwilliam gebore – sonder groot hulpbronne, maar met ’n groot droom.
“As kaptein het ek saam met my broers gespeel. Dit was ’n trots oomblik vir ons pa en vir die gemeenskap.”
Leierskap deur voorbeeld.”
As afrigter het September die selfde energie gebring wat hom as speler gekenmerk het.
“Ek het geen oefening gemis nie. Jy kan nie verwag van ander wat jy self nie doen nie. Ek het altyd vir my spelers gesê: glo jy is die beste, maar bly nederig. Wen of verloor – daar’s altyd ruimte om te groei.”
’n Lewe van lesse en nalatenskap
Hy het menige toekennings ingepalm – van beste agterspeler op skool en kollege tot sportman van die jaar by WP-Platteland. Later sou hy as afrigter by Boland Rugby betrokke raak, waar hy jong spelers na groter hoogtes gelei het.
Vir hom bly nederigheid, geloof en respek die grondslag van sukses. “Werk hard, bly fiks, glo in jouself, en respekteer jou afrigters. Sport is oor niemand verleë nie. Delicious was my lewe. Dit was nooit net ’n klub nie – dit was ’n familie.”



