Elke Saterdag is Robertson Town

Piet Nel van Robertson sien rugby nie net iets wat op ’n Saterdagmiddag op ’n rugbyveld gebeur nie. Dit is iets wat al vir baie jare deel van sy lewe is.

Op 70 is hy steeds een van Robertson Town RFC se groot ondersteuners. Hy staan al lank agter die klub en vir hom maak dit nie saak of die span wen of verloor nie. Wanneer Robertson Town speel, is hy daar.

“Ek support hierdie club al vir baie lank,” meen hy. “Ek was ook ’n rugbyspeler toe ek jonk was.”

Daardie liefde vir die spel het nooit weggegaan nie. As iets het dit oor die jare net sterker geword.

Robertson Town is vir hom ’n groot klub met baie ondersteuners. Maar dit is nie net die grootte van die klub wat hom terugbring elke naweek nie. Dit is die gevoel wat rugby vir hom gee.

“Hierdie club bring elke naweek vir my geluk.”

Daar was ’n tyd toe hy vir ’n lang tyd in die hospitaal was en nie self by die rugby kon wees nie. Maar selfs toe kon rugby nie van hom weggeneem word nie.

Elke Saterdag het hy sy kleinkind gebel. Die vraag was eenvoudig – Wat is die score?

Sy kleinkind moes vir hom die wedstryd se verloop deurgee, sodat hy vanuit die hospitaal steeds kon voel asof hy deel was van wat op die veld gebeur.

Dit sê baie van wat Robertson Town vir hom beteken. Hy is die soort ondersteuner wat agter sy span staan, maak nie saak wat nie.

“Wen of verloor.”

Dit is hoe hy dit sien, en sy liefde vir die klub het nie net by hom gebly nie. Hy het sy kleinkinders aan Robertson Town voorgestel en hulle ook geleer om die klub te support.

Een van sy kleinkinders is vandag deel van die klub se mediaspan, Shirifka, en vir Piet is dit iets besonders om te sien.

“Ek is baie bly dat sy iets doen vir hierdie club.

“Dit is dalk een van die mooiste dinge van ’n rugbyklub. Jy ondersteun dit vir jare, jy neem jou kinders en kleinkinders saam, en op ’n dag staan hulle langs jou en help hulle om die klub waarvan jy so baie hou, aan die gang te hou.”

Selfs wanneer hy nie op ’n Saterdag by die rugby kan uitkom nie, is daar steeds ’n klein stukkie Robertson Town by hom.

Sy TOWN-hempie hang op die bank by sy huis. Dit is sy manier om te sê: ‘Ek is dalk nie daar nie, maar ek support steeds.’

En soos enige ware rugbyondersteuner is daar ook daardie Saterdagse gebed. Nie net vir die uitslag nie, maar vir die spelers.

“Ek bid elke naweek dat nie een van die players beserings optel nie.”

Want vir Piet gaan dit nie net oor die span wat wen nie. Dit gaan oor die mense op die veld, die klub wat hy al vir so lank ondersteun en die geluk wat rugby elke naweek vir hom bring.

Op 70 staan hy steeds agter Robertson Town. Soms langs die veld. Soms van die huis af, en daar was selfs ’n tyd vanuit ’n hospitaalbed.

Sy hart sal by TOWN altyd wees, hy sien die ondersteuning as net iets wat jy net doen wanneer jou span wen nie. Dit is iets wat jy doen omdat dit jou klub is.

Dit, sal vir altyd sy bydra tot Rugby se Mooiste Storie bly wees.

Write what you are looking for, and press enter to begin your search!