’n Hawstonner deur en deur
Anley Grootboom se Hawston Rugby Voetbalkub (RVK) storie begin nie in 2008 toe hy as speler by die klub aangesluit het nie. Dit begin eintlik baie vroeër.
Sy ma, Mary Grootboom (néé Geldenhuys), was swanger met hom toe Hawston nog as Olympics bekend gestaan het. Dit was ’n Saterdag en wedstryddag, maar sy kon nie by die veld wees nie. Sy moes Hermanus toe gaan en die volgende dag is hy gebore.
Hy kan nie meer onthou teen watter span Olympics daardie dag gespeel het nie, maar die storie het oor die jare deel van hom geword.
“Ek is al deel van die klub vanaf 2008,” vertel hy. “Ek was eers as speler by die klub.”
Daar was ook sy ouma, Martha Appel (néé Visser), en haar lewensmaat, David Hunter. Hulle was getroue ondersteuners van die klub en het ook ’n rol gespeel in sy liefde vir Hawston Rugby oftewel Hawston Skrik Vir Niks (SVN).
Vir hom is die klub vandag nog baie meer as net rugby.
As ’n trotse Hawstonner sien hy wat die klub vir die dorp beteken. Dit gee vir elke seun wat wil rugby speel ’n kans om deel te wees van iets en om die naam van Hawston hoog te hou.
“Elke speler wat in die klub is, is spesiaal.”
Dit is ook hoekom hy ná al die jare steeds betrokke is. Die klub is sy plek. Sy mense. Die plek waar hy net homself kan wees.
“Die klub is my ‘go-to place’ waar ek net myself kan wees.”
Deur die jare het hy ook ’n ander rol by die klub gekry. Vandag ken baie mense hom as die vlagman. Hy is ook betrokke as assistent-skeidsregter, iets wat volgens hom nie altyd maklik is nie.
Maar hy doen dit met trots. Dit het hom ook as mens gevorm. Hy het deur die klub goeie bande met ander mense in die dorp opgebou en geleer om verantwoordelikheid te neem vir die rol wat hy vervul.
Die geskiedenis van Hawston SVN is volgens hom een wat deur baie mense geskryf is. Nie net deur die spelers wat op ’n Saterdag op die veld hardloop nie, maar deur almal wat agter die skerms hul deel doen.
As die klub se mure kon praat, sou hulle stories hê oor elke bestuurslid, afrigter, spanbestuurder, borg, speler, medic, video-opnemer en busbestuurder. Hulle sou ook stories hê oor elke ondersteuner wat week ná week en naweek ná naweek opdaag.
“Almal van ons doen dit vir die gemeenskap.”
Daar was natuurlik ook moeilike tye.
Hawston moes vir jare in die Shield-liga speel en dit was nie altyd maklik nie. Die klub moes homself uit daardie posisie werk voordat hulle weer na die Premierliga kon skuif.
Vir hom was dit een van die dinge wat gewys het wat moontlik is wanneer mense saamstaan.
Storie deur Jason Duminy (Hawston RVK SVN Media)
Dan was daar 2016, ’n jaar wat hy ook uitlig. Hawston het weer gewys dat die klub groot rugbyspelers kan oplewer. Dit was nie net een persoon se werk nie. Bestuur, afrigters, spelers en almal rondom die klub het hulle deel gedoen.
Dit is wat hy graag wil hê mense moet verstaan wanneer hulle na Hawston Rugby Club kyk.
Die klub behoort aan die gemeenskap, en as die gemeenskap agter die klub staan, kan daar nog baie bereik word.
Hy dink nie baie aan wat mense eendag van hom moet onthou nie. Hy wil net hê mense moet hom onthou vir wie hy was, binne die klub en binne die gemeenskap.
Maar daar is een ding wat vir hom belangrik is.
Hy wil hê sy kinders moet ook die klub ondersteun. Nie noodwendig op dieselfde manier as hy nie, maar op enige manier waarop hulle kan. Hy wil hê hulle moet help om die naam van Hawston hoog te hou en saam met die res van die gemeenskap die klub na beter hoogtes te neem.
Want vir iemand wat op ’n wedstryddag gebore is, voel dit seker maar gepas om soveel jare later steeds langs die rugbyveld te wees.
Vlag in die hand. Trots op Hawston, en steeds deel van die klub.
“Die hele gemeenskap moet saamstaan vir ons klub.”

