Verhoeven se tone trap diep spore in Boland Storie
In die nuuste aflewering van die Sanlam Boland Legacy Series val die soeklig op Antonius Verhoeven, die voormalige heelagter wat die Boland Kavaliers in 124 wedstryde verteenwoordig het en ook die Blitzboktrui gedra het.
Die nou 48-jarige Verhoeven, is in Kraaifontein gebore maar is geskool in Ceres waar hy in 1995 aan die Hoёrskool Charlie Hofmeyr gematrikuleer in het. Tone, soos hy alombekend staan onder sy spanmaats en vriende, het op die rugbyveld heelwat hoogtepunte beleef maar wanneer hy oor sy tyd in die Kavalier-trui praat, kom hy telkens terug na die dag toe hy sy debut gemaak het.
“Daar is baie, baie hoogtepunte. Dis moeilik om te kies,” sê hy wanneer hy gevra word wat uit sy loopbaan uitstaan. Ná ’n oomblik se dink, begin hy by sy eerste wedstryd.
Hy onthou die senuwees goed. As nuwe speler het hy geweet die ouer manne sou hom ná die wedstryd op hul unieke manier verwelkom. Wat hy minder verwag het, was dat hy op die veld vier keer van die kantlyn af pale toe sou moes skop.
“Ons het twee drieë in die eerste helfte gedruk, een in die linkerhoek en een in die regterhoek. In die tweede helfte was dit weer so. En ek het daardie aand vier uit vier van die hoeke af oorgeskop.”


Die presiese telling ontwyk hom vandag, maar nie daardie vier skoppe nie. Dit was ’n begin wat hom selfvertroue gegee het en een van die eerste verhale geword het wat hy vertel wanneer die gesprek na sy tyd by Boland draai.
Verhoeven het reeds op junior vlak vir Boland gespeel. Die begeerte om uiteindelik ’n Kavalier te word het hom deur die jare gemotiveer. Hy onthou hoe spelers hul Bolandbaadjies ontvang het nadat hulle hul plek in die span gevestig het, en hoe trots hy was toe sy beurt aanbreek.
“Die dag toe ek my Bolandbaadjie gekry het, was die spesiaalste dag van my loopbaan,” sê hy. “Dit was vir my baie besonders om daardie baadjie te kry.”
Nie elke stap op pad na die senior span het ewe glad verloop nie. Tydens ’n proefwedstryd het hy die bal gekry met ’n verdediger voor hom. Hy wou ’n indruk maak en het begin dink aan alles wat hy met die bal kon doen: ’n skoppie, ’n fopaangee of ’n aangee.
Hannes de Kock, die groot Boland flank, het hom egter nie tyd gegee om klaar te besluit nie. Die duikslag wat gevolg het, het Verhoeven ’n les geleer wat hy vandag nog met ’n lag oorvertel.
“Daar het ek besef ek moet vinniger besluite neem, voordat iemand my weer só pak. Ek het daai tekkel sommer lekker gevoel!”
Hy het later deel geword van ’n Kavaliergroep wat vir talle onvergeetlike dae op die Bolandstadion gesorg het. Een daarvan was ’n Curriebekerwedstryd teen die Leeus op ’n Sondag. Verhoeven onthou John Daniels se drieë en die manier waarop Boland daardie dag gespeel het.
“Ons was geolie daardie dag,” sê hy.
Sy honderdste wedstryd, teen die Westelike Provinsie (WP) op die Boland Rugby Stadion, was weer ’n dag om te vier. Volgens Verhoeven was Boland uitstekend deur Hawies Fourie voorberei. Boland het presies geweet wat om van WP te verwag en waar hulle die besoekers kon toets.
Hy meen hy het in daardie wedstryd ook “’n skepdoel of twee” aangeteken. Oor die presiese getal is hy nie meer seker nie. Oor die voorbereiding en die gevoel om sy honderdste wedstryd voor die Bolandondersteuners te speel, twyfel hy glad nie.
Verhoeven sê verskeie mense het ’n groot aandeel in sy ontwikkeling gehad. Een van die eerstes was sy onderwyser Boland Pienaar, wat hom vroeg geleer het hoeveel harde werk sport én die lewe verg.
“Ek was nogal skrikkerig vir hom, maar vandag is ek baie dankbaar. Hy het my gewys wat harde werk is en my geestelik voorberei.”
Louis Giliomee, (die opwindende Luan se pa) was nog iemand wat in hom geglo en hom aangespoor het om aan te hou werk toe hy dit nodig gehad het. Verhoeven praat ook met waardering oor die afrigters wat die Kavaliers gehelp het om beter voorbereid en meer professioneel te word.
“Die Boland afrigters het my almal beter gemaak,” sê hy. “Hier praat ek van iemand soos Nick Mallet. As ‘n afrigter het Mike Bayley baie sy heelagter in die spel gebring en dit het my soos ‘n handskoen gepas. Hawies Fourie was al destyds goed met ontleding – ek het onder goeie afrigters gespeel.”
“Ek het opgekyk na spelers soos Jannie Coetzee, Hannes de Kock, my goeie vriend Chris Thiart en Marius Joubert. Hy het ‘n gedugte senterpaar met Wayne Julies gevorm. Wayne het my in ‘n gapings gesit wat ek nie eens geweet het bestaan nie. Hy het sulke vinnige hande gehad en het geweet wanneer en hoe om te pass. Ons het die verdediginglyn gemanipuleer,” vertel hy met opgewondenheid.
Vandag werk hy in die landboubedryf, waar hy onder meer kruie vir die gasvryheidsbedryf kweek. Sy vrou, Marissa, was reeds tydens sy speeldae aan sy sy. Hul kinders, Femke en Antonius, het ook ’n belangstelling in sport ontwikkel.
Sy seun se belangstelling in rugby het Verhoeven die afgelope twee jaar weer gereeld na die Kavaliers laat kyk. Wanneer hulle saam Boland Rugby stadion toe ry, moet die Kavalierliedjie hard in die motor speel. Die jong Antonius ken dit uit sy kop en gebruik dit selfs om hom voor sy eie wedstryde te motiveer.
Verhoeven geniet die rugby wat die huidige span speel. Hy meen die spelers is besonder vaardig en beweeglik, maar dit is duidelik dat hy hulle steeds as sy span beskou.
Die Bolandtrui hang nou in sy kantoor; op pad stadion toe sing die volgende geslag reeds die liedjie.
