171 caps, 13 jare, 10 afrigters, 1 trui
In die nuutste aflewering van die Sanlam Boland Legacy Series val die soeklig op Clemen Lewis, die voormalige haker wat sy naam diep in die geskiedenisboeke van Boland Rugby ingeskryf het.
Met 171 wedstryde agter sy naam is Lewis die Kavalier wat die meeste keer in die Boland-trui uitgedraf het. Dit is ’n merkwaardige rekord, maar sy nalatenskap strek veel verder as bloot die getal wedstryde wat hy gespeel het.
Sy verhaal het in Hospitaastraat in Wellington begin, waar sport ’n groot deel van sy vormingsjare was.
Lewis sê hy was bevoorreg om onderrig te ontvang by St Albans Primêr, Bergrivier Sekondêr en later Boland Landbou, waar daar mense was wat opreg daarin belanggestel het om jongmense te help om die beste weergawes van hulself te word.
Sy pad na die Boland-trui was egter nie sonder terugslae nie. Nadat hy as jong speler sy kontrak by die Bulls verloor het, was dit sy ma se geloof in hom wat hom aangemoedig het om by Roses United aan te sluit.
Dit was ’n besluit wat sy liefde vir rugby opnuut aangevuur en uiteindelik die weg vir sy merkwaardige loopbaan by die Kavaliers gebaan het.
“Dit het my weer verlief op rugby gemaak,” sê die nou 42-jarige Lewis. “Daarom was dit vir my besonders om die Boland-trui te dra, want dit het soveel beteken vir almal wat in my geglo het.”
Oor 13 seisoene het Clemmie, soos hy deur spanmaats en ondersteuners genoem word, saam met talle spelers die kleedkamer gedeel en onder tien verskillende Boland-hoofafrigters gespeel. Hoewel hy vele groot wedstryde en spesiale oomblikke beleef het, is dit nie noodwendig ’n enkele oorwinning of drie wat vir hom bo die res uitstaan nie. Dis eerder die mense wat sy Boland-reis besonders gemaak het.
“Ek was bevoorreg om 13 wonderlike jare vir hierdie pragtige unie te speel. Wat vir my uitstaan, is die ervaring dat vreemdelinge elke seisoen in ’n familie verander het. Dit is iets wat ek altyd sal koester.”
Daar was deur die jare talle gemeenskapslede, onderwysers, spanmaats, klubafrigters en administrateurs wat ’n rol in sy loopbaan gespeel het. Lewis skerts dat hy letterlik ’n boek oor hul invloed kan skryf.
Tog is daar een les, afkomstig van die voormalige Roses United-voorsitter Denzil Domoney, wat hom steeds bybly: “You need to care first, because you can’t teach or coach a hungry child.”
Dié woorde het nie net ’n groot invloed op Lewis die speler gehad nie, maar vorm vandag steeds ’n belangrike deel van sy benadering as afrigter en mentor.
Sy rugbystewels is lankal weggepak, maar rugby bly ’n integrale deel van sy lewe. Lewis is tans die direkteur van afrigting by Wynland-rugbyklub en die hoofafrigter van Hoërskool Noorder-Paarl.
Hy is ook die stigter van die Cap2Factory Rugby Academy, wat na verwagting in Januarie 2027 sy deure sal open. Die akademie se doel is om meer Cravenweek-spelers uit die Paarl- en Wellington-gemeenskappe te ontwikkel.
“Vir my gaan dit daaroor om my kennis en ervaring te deel met enige jong speler wat bereid is om te leer en te groei.”
As voormalige hoof van ontwikkeling by Boland Rugby ken Lewis die diepte van die streek se talent beter as die meeste. Hy is beïndruk met wat die Kavaliers onder Hawies Fourie, sy afrigtingspan en die unie se borge vermag het en beskryf homself vandag met trots as ’n lojale Kavalier-ondersteuner.
Hy glo egter dat daar nog baie meer plaaslike talent ontsluit kan word indien spelers vroeër toegang tot die regte ontwikkeling en ’n duidelike loopbaanrigting kry.
“Indien Boland ’n program kan skep wat verseker dat spelers vroeër die nodige ontwikkeling en ’n duidelike rigting kry, sal baie van ons plaaslike spelers vinniger hul volle potensiaal bereik. Dit kan uiteindelik tot nog groter plaaslike sukses lei.”
Lewis se raad aan jong spelers wat daarvan droom om eendag self die Boland-trui oor hul koppe te trek, is eenvoudig maar kragtig: Drome alleen is nie genoeg nie.
“Daar is niks kragtiger as ’n vasbeslote ingesteldheid nie,” sê Lewis wie ook ‘n uitblinker op die krieketveld was. “Gee jouself ’n kans om die beste weergawe van jouself te word deur te doen wat nodig is. Moenie net droom nie – werk daarvoor.”
Sy rekord van 171 wedstryde getuig juis van daardie ingesteldheid, asook van sy merkwaardige diens, volharding en lojaliteit aan Boland Rugby.
Volgens Lewis was die eerste groot mylpaal, sy 100ste wedstryd – ’n geleentheid om die mense wat van die begin af in hom geglo het, trots te maak. Die 71 wedstryde wat daarop gevolg het, het egter ’n meer persoonlike betekenis gehad.
“Die laaste 71 wedstryde was vir my besonders, want toe het ek dit vir myself gedoen – sodat ek onthou kan word vir wat ek bereik het.”
Sy naaste familie bly sy steunpilaar en bron van krag terwyl hy steeds daarvan droom om as afrigter op die hoogste vlak mee te ding. Vir nou bou hy onverpoosd voort aan sy nalatenskap deur sy kennis by Wynland, Noorder-Paarl en deur sy akademie met die volgende geslag te deel.
Wanneer mense eendag oor Clemen Lewis as speler én afrigter praat, hoop Boland se rekordman dat hulle meer as net die 171 wedstryde sal onthou.
“Ek hoop mense sal my onthou as iemand wat selfloos was – iemand wat altyd bereid was om sy kennis, tyd en ervaring met ander te deel en hulle te help om hul beste te bereik.”
Die rekordboeke sal bevestig dat Clemen Lewis meer wedstryde vir Boland gespeel het as enige ander Kavalier. Sy ware nalatenskap sal egter gemeet word aan die spelers en mense wat hy op sy reis saam met hom help groei en ontwikkel het.
