Van papierbal tot Boland Darling
In hierdie aflewering van die Sanlam Boland Legacy Series vertel ons die verhaal van Neil Papier, die legendariese skrumskakel van Darling wat die Sanlam Boland Kavaliers 153 keer verteenwoordig het.
Lank voordat die 49-jarige Papier sy naam in Boland Rugby se rekordboeke geskryf het, was hy net ’n jong seun wat in die stofstrate van Darling met ’n tuisgemaakte rugbybal rondgehardloop het.
Papier is ’n Darling-man in murg en been. Dit is waar sy liefde vir rugby ontstaan het en waar die fondament vir een van die langste loopbane in Boland se geskiedenis gelê is.
“Ek is van Darling – gebore en getoё – en baie trots op my komvandaan. Alles het vir my in die strofstrate van Darling begin,” vertel hy.
Rugbyballe was destyds ’n luukse wat min kinders in sy gemeenskap kon bekostig. Papier en sy vriende moes daarom hul eie plan maak. Koerantpapier is opgefrommel, in ’n plastiek sapbotteltjie gestop en in ’n bal omskep.
Rugby was deel van die Papier-huishouding. Sy pa het destyds vir Young Stars gespeel en het gereeld vir lang tye op see vir I&J gewerk. Wanneer hy teruggekeer het, het hy seker gemaak dat sy jong seun steeds op die regte pad was.
Papier vertel entoesiaties: “As my pa van die see af teruggekeer het, het hy altyd kom kyk hoe ek speel. My onderwyser Mnr Sam Burton het my altyd vooraf gesê: “Daar sit jou pa.” Dan weet ek, ek moet kleinkantjie om breek voor my pa.”
Hy was op Robinvale Hoёrskool in Atlantis voor hy in 1998 is hy vir die Boland o.21-span gekies is. ’n Jaar later het hy die Boland-amateurspann sowel as die Boland-sewespan verteenwoordig.
Die sewespan se toer na Engeland in 1999, waar Papier die geleentheid gekry het om op Twickenham uit te draf en hom teen van die wêreld se beste spelers soos Fidji se Waisale Serevi, Frankryk se Alain Penaud en Paul Hull van Engeland, te meet, bly een van sy kosbaarste rugbyherinneringe.
Dit was egter in 2000 dat sy grootste droom bewaarheid is toe hy vir die eerste keer na die Boland Kavaliers opgeroep is. Vir ’n jong speler uit Darling, afkomstig uit ’n unie met honderde klubs en duisende spelers, was dit ’n geweldige prestasie.
“Om uit al daardie klubs gekies te word om Boland te verteenwoordig, was vir my iets besonders. Ek sal die jaar 2000 nooit vergeet nie. Dit was die jaar waarin ek my kans by die Kavaliers gekry het.”
Hy was aanvanklik deel van Boland se A-span voordat ’n oproep na die senior groep gekom het. Sy eerste geleentheid het teen die SWD Eagles in Wellington aangebreek.
Wat as ’n enkele kans begin het, het uiteindelik in ’n loopbaan van 153 kanse vir die Kavaliers ontaard. Dit maak Papier die tweede mees ervare speler in Boland se geskiedenis, agter Clemen Lewis wat 171 wedstryde gespeel het.
Hoewel Papier oor baie jare vir Boland gespeel het, staan die Kavaliers se Curriebeker Eerste Divisie-triomf in 2011 onder Eugene “Loffie” Eloff besonder hoog op sy lys.
Volgens Papier was dit nie bloot ’n groep talentvolle rugbyspelers nie; hulle was ’n familie.
“Ons het soos broers geword. Daardie groep het spelers soos Elgar Watts, Willie le Roux, Cornal Hendricks, Bolla Conradie, Jacquin Jansen en Brendon April ingesluit. Elke Donderdag het ons ná oefening saamgekom, gesels en ’n koeldrank saam gedrink. Só het ons mekaar beter leer ken en ’n sterk band gevorm.”
Papier sonder verskeie mense uit wat ’n belangrike rol in sy ontwikkeling gespeel het. Onder hulle tel Hawies Fourie (huidige Sanlam Boland Kavaliers hoofrigter), Rudy Joubert en Peter de Villiers, terwyl sy voormalige spanmaat Gustav October ook ’n besondere invloed op hom gehad het.
“Gustav het nooit tou opgegooi nie. Hy het altyd op sy eie verder geoefen en geglo dat niemand beter as hy is nie. Hy was ‘n kort en klein mannetjie, soortgelyk aan Cheslin Kolbe en het ’n ongelooflike sterk wil gehad.”
Papier werk vandag by die Swartland Munisipaliteit in Waterwese, waar hy reeds 12 jaar in diens is. Sy betrokkenheid by rugby het egter nooit geëindig nie. “Ek is betrokke as afrigter by Darling Young Tigers en ek geniet die verskriklik baie. Ons speel in die Streekuitdaag maar ons doelwit is om in Boland se Grootuitdaag kompetisie mee te ding.”
Hy volg steeds die Kavaliers se vordering met groot belangstelling en is beïndruk met die rigting waarin die span en die unie beweeg. “Dit is lekker om te sien hoe die Kavaliers groei. Die bestuur en afrigters doen baie goeie werk met die groep spelers. Dit lyk asof hulle weer ’n familie en ’n broederskap gebou het. Dis lekker om te sien dat die Kavaliers die groot unies aandurf – ek wil ons graag eendag in die URC sien speel.”
Aan jong spelers wat daarvan droom om eendag dieselfde trui te dra, is Papier se boodskap eenvoudig: bly nederig, wees gedissiplineerd en moet nooit ophou meeding nie.
“Moet nooit toelaat dat jy oorwin word nie. Bly kompeterend, maar bly altyd nederig. Moenie toelaat dat jou ego in die pad staan nie. Dissipline kan jou baie ver in die lewe neem.”
Vir Papier sal die Boland-trui altyd veel meer as net ’n rugbytrui wees. Dit verteenwoordig die stofstrate van Darling, die opgerolde koerantpapier, sy pa se nalatenskap en die droom van ’n jong seun wat geweier het om tou op te gooi.
Daardie jong seun het uiteindelik een van Boland Rugby se grootste ystermans geword: 153 wedstryde, talle onvergeetlike herinneringe en ’n nalatenskap wat moeilik geëwenaar sal word.
