Klub & Kava Legende – Jack the Knife
In the first of our Sanlam Boland Legacy Series, we feature Jacquin Jansen – a Boland club, Kavalier, and coaching legend who has dedicated nearly two decades to serving the Boland region with confidence.
Die naam Jacquin Jansen is die afgelope twee dekades sinoniem met Boland Rugby. Die nou 40-jarige Jansen is tans die vaardigheidsafrigter van die Sanlam Boland Kavaliers ná hy in 2024 sy laaste wedstryd gespeel het.
Jansen is ‘n Bolander uit murg en been. ‘n Gebore en getoë Wellingtonner wat sy rugbywortels by Soetendal Primêr geplant het voordat hy sy skoolloopbaan aan Hoërskool Bergrivier voltooi het.
Hy het sy klubrugby by Young Blues afgeskop, later ook vir Adelaars gespeel en uiteindelik by Roses United beland. Dit was hier waar sy talent behoorlik begin blom het. Hy het nie net een van die Boland se voorste klubspelers geword nie, maar ook by Roses die eerste van sy vier Boland Klubrugby-goue medaljes ingepalm.
Dit was net ‘n kwessie van tyd voordat die Kavaliers sou aanklop.
Jansen, ‘n klassieke losskakel wie ook heelagter kon speel, het in 2008 sy debuut vir Boland onder die breierskap van die huidige Springbok-hulpafrigter, Deon Davids, gemaak. Hy het toe vir ses jaar die swart-en-goud van Boland gedra voor hy in 2014 Wellington vir Kimberley verruil het om vir Griquas te speel.
Twee jaar later het hy by die SWD Eagles in George aangesluit, maar ‘n ernstige skouerbesering en die operasie wat daarop gevolg het, het sy rugbyloopbaan skielik tot stilstand gebring.
Jansen, ook bekend as Jack the Knife, het egter sy loopbaan by Roses voortgesit toe sy skouer genoegsaam herstel het. Hier het hy in 2017 ‘n kritieke rol gespeel in “Die Roos” se verowering van die Boland-titel. Hierdie vertonings het die oog van Randall Modiba,toe die Boland afrigter, getref en Jansen was weer ‘n Kavalier.
Hy is egter in 2019 Saldanha toe om ‘n werksgeleentheid aan te gryp en het ook die Boland-titel twee (2019 en 202) keer saam die Baai gewen. Dit maak hom een van die mees bekroonde spelers in die moderne tyd.
Jansen se vertonings aan die Weskus het weereens nie ongesiens verbygegaan nie en in 2022 moes hy nogmaals ‘n noodoproep antwoord. Dié keer van ‘n voormalige spanmaat en mede-Bergrivier-oudleerling, Franzel September, wat hom as speler-afrigter by die Kavaliers betrek het.
Sedertdien het Jansen sy kennis en ervaring begin oordra aan die volgende geslag Kavaliers.
Tesame met sy rol op die afrigterspan van die Sanlam Boland Kavaliers en is hy ook deel van die van die Sanlam Boland o.21-span se afrigters. Twee Curriebeker Eersteliga-titels later staan hy nou op die vooraand van nóg ‘n Curriebeker Premierliga-veldtog met die unie wat nog altyd sy rugbytuiste was.
Interessant genoeg het sy grootste rugbyhoogtepunt nie in ‘n Boland-trui gekom nie.
“My grootste hoogtepunt was toe ek in 2012 opgeroep is om vir die SA Suidelike Barbarians teen Engeland uit te draf,” vertel hy.
“Om teen spelers soos Alex Goode, Charlie Hodgson en Danny Care te speel, is iets wat ek altyd sal onthou. Dit bly een van die spesiaalste oomblikke van my rugbyloopbaan.”
Jansen weet egter beter as die meeste dat talent alleen jou nie ver bring nie. Daarom is sy raad aan jong spelers eenvoudig, maar kragtig.
“Onthou dat harde werk altyd talent oorskadu. Jy kan al die talent in die wêreld hê, maar as jy nie bereid is om hard te werk nie, gaan jy nie jou volle potensiaal bereik nie.”
En miskien is dit presies hoekom Jacquin Jansen vandag steeds so ‘n belangrike deel van Boland Rugby is.
Nie omdat hy die meeste wedstryde gespeel het of die hardste geskree het nie.
Maar omdat hy, jaar ná jaar, gewys het wat dit beteken om die Bolandwapen met trots te dra – eers as speler en vandag as afrigter.
