Kavaliers dalk sonder Tedder en Stighling
Die Sanlam Boland Kavaliers het Vrydagaand (24 April) ten spyte van moeilike omstandighede in Potchefstroom, vyf waardevolle punte met hul oorwinning van 12-33 oor die Leopards in die SA Cup ingepalm.
Dié oorwinning plaas hulle nou in derde plek met 25 punte op die punteleer – ten minste vir tyd en wyl – aangesien die Toyota Cheetahs (23) en die Dotsure SWD Eagles (22) albei vandag (Saterdag, 25 April) om 15h00 hul rondte 7 wedstryde speel.
Die top vier spanne kwalifiseer vir die Carling Currie Cup Premier Division. Hawies Fourie, hoofafrigter van die Sanlam Boland Kavaliers, was tevrede met die oorwinning hoewel hy op hete kole sal wees aangesien James Tedder (harsingskudding) en Jade Stighling (dyspier) albei die veld in die eerste helfte weens beserings moes verlaat.
“Dit was moeilike omstandighede hier in Potchefstroom,” het Fourie na afloop van die wedstryd gesê. “Dit het baie gereёn die hele week, gisteraand en tot vanmiddag 13h00. Dit het gely tot nat, modderige toestande. Ons het goed gedoen in die skrums [en] heelwat strafskoppe daar afgedwing.”
Ten spyte van sy tevredenheid in die vaste fassette het Fourie sy kommer uitgespreek oor ander aspekte van hul spel. “Ons het te veel foute na my mening op die aanval gemaak en op verdediging was ons ook nie dominerend genoeg nie. Die standard van hierdie span is hoёr as wat ons vanaand gewys het.”
Fourie was ook vol lof vir die tuisspan. “Die Luiperds het regtig goed gespeel. Dit was hulle laaste tuiswedstryd van die SA Beker so hulle het regtig alles gegee. Ek voel ons as ‘n span kan baie by hulle leer ten opsigte van ons ingesteldheid veral met die oog op ons laaste twee wedstryde.”
Die Kavaliers kom volgende Sondag, 3 Mei, teen die Airlink Pumas in Mbombela te staan in wat in alle waarskynlikheid ‘n lotbepalende wedstryd vir hul SA Cup kan wees.
Puntemakers:
Leopards: 12 (7) Drieë: Naiden Jaarts, Ghudian Van Reenen
Doelskop: Jandré Burger
Sanlam Boland Kavaliers: 33 (19) Drieë: Jade Stighling, Jayden Bantom, Domenic Smit, Dewald Maritz, Duren Hoffman
Doelskoppe: James Tedder (2), Jayden Bantom (2)
SPANNE:
Leopards: 15 Shaun Baxter, 14 Sino Tshontyi, 13 Indiphile Tyeda, 12 Brandon Keevy, 11 Naiden Jaarts, 10 Jandré Burger, 9 Daimon O’Connel, 8 Adri Kermis, 7 Ghudian van Reenen, 6 Arminn Posthumus, 5 Stephen Taylor, 4 Babalo Makana, 3 Munashe Mhere, 2 Jason Alexander (capt), 1 Tatenda Chayayi
Plaasvervangers: 16 Liyema Mgwigwi, 17 Rowan Mitchell, 18 Werner Geldenhuys, 19 Gcino Mdletshe, 20 Godfrey Sebokolodi, 21 Divan Pieters, 22 Hlumelo Ndudula, 23 Noegh Hayward
Sanlam Boland Kavaliers: 15 Domenic Smit, 14 Duren Hoffman, 13 Xavier Mitchell, 12 Lunathi Nxele, 11 Jade Stighling, 10 James Tedder, 9 Louis Schreuder, 8 Thurlow Marsh (capt), 7 Kwanda Dimaza, 6 Sibusiso Sangweni, 5 Jeandre Leonard, 4 Marlyn Williams, 3 Dayan van der Westhuizen, 2 Joshua Eras, 1 Mthokozisi Gumede
Plaasvervangers: 16 Sidney Tobias, 17 Dewald Maritz, 18 Doctor Booysen, 19 Michael Mutombo, 20 Sauliegh Arendse, 21 Godlen Masimla, 22 Chris Smit, 23 Jayden Bantom
