Fourie tevrede met sy span se besluitneming

WELLINGTON, SOUTH AFRICA - APRIL 18: Jurick Lewis of Sanlam Boland Kavaliers during the SA Cup match between Sanlam Boland Kavaliers and Border Bulldogs at Boland Rugby Stadium on April 18, 2026 in Wellington, South Africa. (Photo by Ashley Vlotman/Gallo Images)

Die Sanlam Boland Kavaliers se oorwinning van 74-5 teen die Border Bulldogs in Wellington kan hulle moontlik vorentoe in die toekoms baat indien punteverskil ‘n faktor raak. Die top vier spanne kwalifiseer om in die Carling Currie Cup se Premierliga te speel, terwyl die res in die Eersteliga sal moet meeding.

Hawies Fourie, hoofafrigter van die Sanlam Boland Kavaliers, was tevrede met die uitslag veral in die lig daarvan dat die wedstryd in nat en modderige toestande in die Boland Rugby Stadion beslis is. Die linkervleuel Jayden Bantom en die haker Joshua Eras het albei twee drieё gedruk terwyl Xavier Mitchell (buitesenter) vier keer agter die doellyn gaan kuier het in uiters uitdagende veldtoestande.

Fourie se span beklee tans die vyfde posisie op die punteleer met 20 punte en is in ‘n stryd gewikkel om in die top vier te eindig. Die Dotsure SWD Eagles is op 22 punte en die Toyota Cheetahs op 23. Die Suzuki Griquas gee die pas aan met 30 punte gevolg deur die Airlink Pumas op 27.

“Die omstandighede was moeilik,” het Fourie ná die wedtsryd erken. “Die veld was baie nat en modderig, en dit het dit vir die spelers moeilik gemaak om hul voete te hou, veral wanneer hulle wou versnel of rigting verander.

“Ek dink onder die omstandighede het ons goed gevaar om so ’n groot punteverskil te kry. Dit was vir ons belangrik. Aan die einde van die kompetisie oor drie weke gaan punteverskil ’n groot rol speel in wie die halfeindronde haal en wie nie.

“Ons het die bal ’n paar keer verloor omdat ons probeer het om te veel te forseer, maar ons reaksie was goed en ons het weer teruggekeer na ons strukture. In sulke wedstryde is dit altyd moeilik. Wanneer daar ’n groot punteverskil is, kan ’n span maklik fokus verloor. Ek is tevrede dat ons nie onnodige foute gemaak het nie en dat ons oor die algemeen die regte besluite geneem het.”

Die Sanlam Boland Kavaliers se fokus verskuif nou na die Leopards teen wie hulle Vrydagaand in Potchefstroom te staan kom. Die Eagles en die Cheetahs, die Kavaliers se vernaamste teenstanders vir kwalifikasie, speel teen onderskeidelik die Griffons en Valke Saterdag.

Leave a Reply

You must be logged in to post a comment.
Write what you are looking for, and press enter to begin your search!