By Wesbank Rugbyklub word trots, lojaliteit, en passie van geslag tot geslag oorgedra – dit is die geval vir Emgee Fredericks, huidige voorspeler-afrigter en voormalige kaptein van die rooi en wit familie.
Vir Emgee was rugby nog altyd meer as net ’n sport, dit was ’n lewenspad. Hy kom uit ’n talentvolle en trotse rugbyfamilie aan albei kante, en sê sonder huiwering dat sy familie die grootste inspirasie was om die spel te begin speel.
Sy rolmodelle het reeds vroeg ’n indruk gemaak: sy oupa Karools Fredericks, plaaslike helde soos Cornelius “Doppies” Coetzee en meneer Hendrick Leitenaar, en internasionaal die legendariese Zinzan Brooke van New Zealand.
“Hulle het my geinspireer om groot te droom, maar altyd nederig te bly,” vertel hy.
As hy terug kyk op sy loopbaan onthou hy sy mees onvergeetlike wedstryd — ’n Woensdagaand teen Durbell op Paarl, omtrent tien jaar gelede.
“Ons moes daardie wedstryd wen om aan die destydse Community Cup (nou die Gold Cup) deel te neem. Dit was spesiaal — daardie aand sal ek nooit vergeet nie.”
Die pad was nie altyd maklik nie. Emgee moes ’n nekbesering oorkom wat ’n operasie vereis het — maar met geloof, selfvertroue en ’n passie vir die spel het hy weer sy stewels aangetrek.
“Met die genade van God het ek teruggekom. Opgee was nooit ’n opsie nie. Jy is net so goed soos jou span jou toelaat om te wees. Alles wat jy doen, gebeur deur spanwerk.”
Vandag leef hy sy passie voort as voorspeler-afrigter van Wesbank, waar hy sy ervaring en kennis aan die volgende generasie oordra.
“Die volgende beste ding na speel, is om ander te help groei. Ek geniet elke oomblik. Hard werk klop talent. Doen die ekstra werk op én van die veld af, en wanneer jou kans kom — gryp dit met albei hande.”
Wanneer gevra word oor Wesbank se deelname aan die Sanlam Boland Top12, glimlag hy selfversekerd: “Ons is gereed. Ons is die kampioene dié jaar!”



