Saldanha Bay RVK het oor die jare baie groot spelers opgelewer, onder daardie lys van uitstekende spelers sal jy die naam William “Bobang” Maya vind. Gebore op 17 September 1971 en ’n trotse oudleerder van Diazville Hoërskool, is Maya se rugby loopbaan uitgekerf en gevorm deur die gemeenskap waarin hy grootgeword het.

‘n Kranige senter, met die nommer 12-trui op sy rug, het hy bekend gestaan vir sy spelintelligensie en sy uitstekende leierskap buite die veld.

Dit is vir Maya baie belangrik om altyd te fokus op meer as net rugby, die spel. Dit bly ‘n plek waar hy homself en ander kan sien uitleef deur vordering, geloof, en dankbaarheid. Hy skryf baie van sy nederigheid en innerlike krag toe aan sy ouma, wat ’n groot invloed op sy lewe gehad het.

“Ek is ’n mens deur ’n ander mens,” sê Maya trots. “Daar is baie gunstelingmense in die lewe, maar my gunsteling van almal was my ouma,” vertel hy. “Sy was ’n versorgende, Godvresende vrou wat my geleer het om dankbaar te wees vir alles wat ek het, en om altyd ander eerste te stel.”

Daardie lesse het hom as leier by Saldanha gevorm, waar hy as mentor en inspirasie vir baie opgetree het. Bekend vir sy kalmte onder druk, glo Maya dat sukses — op en van die veld — berus op dissipline en spanwerk.

“Daar was soveel mense wat in my geglo het. My onderwysers en afrigters het my potensiaal gesien en my gehelp om te word wie ek is. Ons sal goed doen as ons ons foute beperk, by die struktuur hou en ons kanse benut.”

Geloof en nederigheid bly sy hoekstene. “Onderskei — weet dat elkeen die reg het op sy opinie en jy hoef dit nie te entertain nie. Gebruik kritiek om te verbeter en draai dit om in ’n positiewe gesindheid. Geloof, gebed, vrede, vreugde en verantwoordelikheid — dit is wat my gegrond hou.”