As jy al ooit ’n bietjie uitlyn geraak het op Villagers Worcester se Facebook-blad, weet jy presies wie Stephan “Faan” Neethling is. Die man wat nie ’n rugbybal hoef aan te vat om respek af te dwing nie – want sy woorde byt skerper as enige skrum.

 “Ek het nooit rugby gespeel nie,” sê Faan met daardie bekende glimlag van hom. “Maar moenie dat iemand dink ek het nie my deel van stof en sweet gekry nie. Ons het as laaities in die sandputte van Hexpark gespeel vir trofeë – pakkies gebreekte biscuits en Coke!” Hy lag lekker: “Die jongspan sal nie glo nie, maar destyds kon jy regtig pakkies gebreekte biscuits koop. Die grootmense sal weet.”

Faan se rugbyliefde het in die laat 80’s posgevat toe hy saam met sy destydse kollega, die legendariese Johannes ‘Dassie’ Jacobs, die wedstryde van Worcester Perseverance begin bywoon het. “Dassie was ’n held. Ek het maar saamgegaan en voor ek my kon kry, was rugby deel van my bloed.”

Sy pad na Villagers het egter eers jare later begin – in 2014, en in 2015 het hy aangesluit by die Ondersteunersklub. “Brian Richards, wat toe die voorsitter was, het gesê ek moet die media help bestuur,” vertel Faan. “Ek het toe begin foto’s neem met my selfoon. Ai, die mense het my uitgelag! Hulle sê toe: ‘Kyk daai man – hy dink hy’s ’n fotograaf met ’n foon!’” Hy grinnik breed. “Maar wat hulle nie geweet het nie, is ek het die beste selfoon op die mark gehad – met ’n beter kamera as wat hulle ooit in hul sakke gehad het!”

Daardie sogenaamde “foonfoto’s” het vinnig opslae gemaak. Faan se oog vir die regte oomblik – die glimlag van ’n ondersteuner, die sweetdruppel op ’n speler se voorkop – het Villagers se gees begin vasvang op maniere wat min kon doen.

Wat begin het as ’n eenvoudige blad vir ondersteuners, het onder Faan se bestuur gegroei tot een van die grootste nie-amateur rugbyblad in Suid-Afrika. “Ons blad het groter geword as wat enigiemand verwag het,” sê hy trots. “En dit bly skoon – want by ons is daar reëls.”

Nou ja, en dit bring ons by sy bynaam.

 “Party sê ek’s streng, maar ek sê net ek’s regverdig,” vertel Faan met ’n vonkel in sy oog. “As jy op ons blad kom om te kla, te vloek of mense aan te vat – dan sal jy gou voel hoe byt die Swart Mamba.”

Die bynaam het natuurlik gegroei uit sy onwrikbare dissipline op sosiale media. “Ek’s self donker kleurig,” sê hy skalks, “en die swart mamba is een van die vinnigste en giftigste slange in die wêreld. So ja – as jy onsmaaklik raak, ek pik jou sommer gou, en jy’s uit. Daar is geen teenmiddel nie!”

Onder sy bestuur is daar geen plek vir drama of venyn nie. “Ek sê altyd vir die mense: jy’s welkom om hier te praat, maar hou dit net respekvol. Dis rugby, nie ’n oorlog nie.”

Die gogga vir fotografie het hom behoorlik gebyt. Faan het sy eie fotostudio begin en homself opgelei as ’n professionele fotograaf. Vandag word sy werk wyd bewonder – van wedstryde tot troues.

“Ek het agtergekom dis nie net oor foto’s neem nie,” verduidelik hy. “Dis oor stories vertel. Elke foto sê vir my iets oor mense – oor gees, oor trots. Dis hoekom ek hou van rugby – dit’s lewende stories.”

Met trots in sy stem sê hy: “Ek het baie klubs gesien, maar Villa was my eerste liefde. En glo my, dit sal my laaste wees.” Faan het intussen twee termyne op die klub se bestuur agter die blad en was ook voorsitter van die ondersteunersklub. “Ek sê altyd, ek’s nie perfek nie, maar ek’s lojaal. En by Villa, dis wat tel.”

In ’n tyd waar sosiale media dikwels ’n giftige plek kan wees, is dit dalk juis gepas dat Villagers Worcester hul eie Swart Mamba het – nie om te vernietig nie, maar om te beskerm. Of soos Faan dit stel: “Ek’s nie hier om mense bang te maak nie. Ek’s hier om te sorg dat die blad iets is waarop ons trots kan wees. En as ek moet byt om dit reg te hou – wel, dan byt ek mos met styl!”

Stephan “Faan” Neethling, beter bekend as die Swart Mamba van Villagers Worcester, bestuur die klub se media met ’n ferm hand en skerp humorsin. Sy foto’s en woorde hou die Villa-gees lewendig.

Opgestel: P.Hermanis (Sekretaris Villagers Worcester)