Die Sanlam Boland Kavaliere het geskiedenis gemaak deur vir die 2025 Curriebeker Premier-afdeling te kwalifiseer – die hoogste vlak van provinsiale rugby in Suid-Afrika – en dit vir die eerste keer sedert 2016. Hierdie mylpaal, behaal ná ’n uitstekende SA Beker-veldtog, word verwelkom as ’n bron van trots en inspirasie vir die hele Boland Rugby-gemeenskap.
Bennie van Rooi, president van die Boland Rugby Unie, het die span geloof en hul sukses aan ’n kollektiewe poging toegeskryf:
“Hierdie is meer as net ’n rugby-oorwinning — dis ’n oorwinning vir elke hoek van die Boland. Van die afrigters, spelers en ondersteuningspersoneel tot ons lojale ondersteuners, uitvoerende bestuur, en ons 221 klubs regoor die Boland — hierdie oomblik behoort aan ons almal,” sê Mnr van Rooi.
“Die Sanlam Boland Kavaliere het met hart, nederigheid en durf gespeel. Hulle het die meer as 18 000 spelers geïnspireer wat Boland se kleure op klub-, skool- en jeugvlak dra. Hierdie promosie is ’n beloning vir dekades se toewyding deur klubadministrateurs, vrywilligers, skeidsregters, en ons permanente personeel wat week na week Boland Rugby aan die gang hou.”
Die Kavaliere se heropbou het oor jare gestrek, met toegewyde afrigters, mediese personeel, en operasionele spanne wat die fondament gelê het vir hierdie prestasie. Die pad na die Premier-afdeling weerspieël Boland se kernwaardes — veerkragtigheid, uitnemendheid, en eenheid.
“Hierdie promosie gaan nie net oor ’n nuwe liga nie,” het Mnr van Rooi gesê. “Dit bring hoop en geleenthede vir ons jeug. Dit sê vir elke kind wat kaalvoet op ’n stowwerige veld in Worcester, Robertson of Vredenburg rugby speel, dat hul drome geldig is — en deur Boland Rugby bereik kan word.”
Die uitvoerende bestuur van die Boland Rugby Unie, saam met Sanlam as hoofborg, Sanlam, Vumatel, en Rainbow Chickens as borge was deurslaggewend in hul ondersteuning van hierdie pad terug na nasionale erkenning.
“Ons bedank elke borg vir hul geloof in die Boland visie en elke borg se belegging in die langtermyn toekoms van die Kavaliere en ons streek se spelers. Dit is ’n trotse dag vir ons almal.”



