Van ’n jong seun uit Roodewal tot die voorsitter van een van die oudste rugbyklubs in die land – John “Veggie” Vergotini se storie is een van deursettingsvermoë, trots en onwrikbare liefde vir die spel van rugby.
Gebore en getoë in Worcester se arm woonbuurt, het Vergotini sy pad van ‘n eenvoudige komvandaan na rugbyroem gebaan. Reeds op skool het sy talent duidelik geword. Hy het in 1989 en 1990 as hoërskool leerder sy Boland-klere verwerf. Sy hoogtepunt as jong speler het in 1990 gekom toe hy as Suid-Afrikaanse Skolekapteinaangewys is.
“In my speeldae het ek saam met manne soos Allistair Coetzee, Deon Davidsen selfs[Francois]Kaballie Davids gespeel,” seg Vergontini met trots. “Dis ’n voorreg om te sê ek het saam met sulke groot name op die veld gestaan.”
Hy het in 1989 by Villagers Worcester Rugbyvoetbal klub (RVK) aangesluit – toe nog onder die SARU-bedeling – en homself gevestig as een van die klub se mees dinamiese vleuels. “Ons het onder moeilike omstandighede gespeel, maar ons het sterk gestaan dat daar geen normale sport in ’n abnormale gemeenskap kan bestaan nie, beaam hy met heinwee.
Sy naam is steeds deel van Boland-rugbygeskiedenis: in 1990 het hy sewe drieë in een provinsiale wedstryd gedruk, teen WP Raad op Franschhoek; ’n rekord wat tot vandag toe staan.
’n Staaltjie uit daardie tyd onthou hy met ’n glimlag: “Tydens my eerste wedstryd vir Villagers in Mosselbaai het die voorsitter, mnr. Gert Swanepoel, na elke drie vir my agter die pale gewag, in sy winterjas, en gesê: ‘Dis die begin van baie drieë, seun!’ En hy was reg.”
Na sy speeldae het Vergotini besluit om sy betrokkenheid by die klub voort te sit. Hy het op die bestuur begin dien en later as voorsitter die leisels oorgeneem. “Ek was bevoorreg om saam met groot name soos Aunt Leggy, Onnie Titus en Andrew Cuttings te werk – mense wat my gevorm het as leier.”
Een van sy trotse oomblikke as voorsitter was op 10 November 2018, toe Villagers Worcester die span van Wellington, Roses United RVK in die finale geklop en as kampioene gekroon is.
“Daardie dag sal ek nooit vergeet nie. Dis die soort oomblik waarvoor jy jare werk.”
Tog was daar nie net hoogtepunte nie. “Drie jaar gelede, toe ek weer as voorsitter verkies is, het27 eerste span spelers die klub verlaat. Dit was ’n harde tyd, maar ons het saamgewerk en die klub weer opgebou. Vandag leef Villagers weer.”
Die dood van die klub se direkteur van afrigting en hoofafrigter, mnr. Alridge Mercuur, het ook ’n groot leemte gelaat. “Hy was soos ’n pa vir die spelers en ’n mentor vir my. Sy afsterwe was ’n swaar slag, maar ons eer sy nalatenskap deur voort te bou op sy visie.”
Met meer as 20 jaar se diens aan Villagers Worcester agter sy naam, is Veggie steeds ’n bekende gesig by die klub – en steeds vol humor. “Ja, ek was goed gebou, sonder vet, net spoed,” lag hy. “Nou vra die jong spelers: ‘Oom Veggie, het Oom rêrig vleuel en senter gespeel?’ Dan wys ek vir hulle die foto’s – die bewyse is daar!”
Sy bynaam “Veggie” beskryf hom perfek. “Mense sê dis omdat ek altyd veg. Ek gee nie maklik op nie, maak nie saak wat die uitdaging is nie. Dis deel van wie ek is.”
Aan die einde van die dag bly sy boodskap eenvoudig: “Rugby is meer as net ’n spel. Ná jou speeldae moet jy betrokke bly – as afrigter, bestuurder of mentor. Ons jong spelers het rolmodelle nodig.”
“Villagers Worcester was nog altyd my tuiste. En soos oom Gert destyds gesê het – dis net die begin van baie drieë.”
Opgestel: P.Hermanis (Sekretaris Villagers Worcester)



