Wanneer jy oor Wesbank Rugby praat, is daar sekere name wat altyd met trots genoem word en een van daardie name is Doppies Coetzee. ’n Ware rugbylegende wie se passie, toewyding en nederigheid oor dekades die Wesbank-trui met trots gekleur het.
Sy Beginjare….Doppies se rugbyreis het begin op die plase van Adamsfontein, waar plaaslike spanne op Sondae mekaar die stryd aangesê het. “Dis daar waar my liefde vir rugby ontwikkel het,” vertel hy met ’n glimlag. Sy talent het gou uitgeblink en op skool het hy reeds vir Boland uitgedraf.
Op net 19 jaar oud het hy sy eerste wedstryd vir Wesbank Rugbyklub gespeel as agtsteman. “Daardie dag was spesiaal,” onthou hy. “Ons het gewen, en ek het geweet dis waar ek hoort.”
Sy Invloede en Inspirasie onder die spelers wat ’n groot invloed gehad het op sy loopbaan, noem Doppies name soos Japie Liedeman, Bus Adonis, Kames Humphreys, en Attie Lategan. Hulle kameraadskap het hom gevorm as speler en as mens.
Soos vir baie jong spelers destyds, was finansies sy grootste uitdaging, maar sy deursettingsvermoë en liefde vir die spel het hom altyd vorentoe gedryf.



Sy grootste rugby oomblikke was een van sy mees onvergeetlike oomblikke was toe hy saam met groot name soos Errol Tobias, Schalk Burger, en Pompies Williams vir die WP Federasiespan gespeel het teen die Engelse op Danie Craven Stadion.
Nog ’n hoogtepunt was die RVK-finaal teen Caledon waar sy vertoning soveel aandag getrek het dat Errol Tobias gesê het om “die jongspeler van Malmesbury dop te hou”.
Hy onthou ook met trots die intense wedstryd teen Suidwes-Afrika in Windhoek tydens die Pienaar-wedstryd.
Doppies noem dat spangees was alles. “Ons was ’n eenheid – en daardie bande bestaan nog vandag.”
Vir hom is goeie leierskap eenvoudig; kommunikasie, voorbeeld stel en respek. Rondom konflik sê hy, “praat dit uit, los dit uit, en beweeg aan veral voor ’n wedstryd.”
Sy raad aan jong spelers is duidelik: “Wees betyds, moenie oefeninge mis nie, en leer by die ervare manne.”
Na sy speeldae het Doppies by Eskom gewerk, maar sy hart het nooit van rugby weggebeweeg nie. Tot vandag toe staan hy elke oefenaand langs die veld by Wesbank en help hy die jong losvoorspelers met raad en tegniek.

“Ek mis die gevoel om in die nommer 8-trui uit te draf,” erken hy. “Maar ek kry nou my vreugde in om die jongmanne te sien groei.”
Hy bly fiks deur daagliks te stap en in die gym te oefen, en volg steeds elke wedstryd van sy geliefde Wesbank.
Volgens hom is rugby vandag baie vinniger, en die reëls het oor tyd verander. Tog bly die kern dieselfde: “Hard werk bring sukses.”
Die beste raad wat hy ooit gekry het was…Oefen hard as jy bo wil uitkom. Hy hoop sy nalatenskap sal wees dié van ’n toegewyde speler en mentor, iemand wat sy kennis deel met die volgende generasie.
Sy boodskap aan jong spelers is wees vol karakter: “As jy nie gekies word nie, moenie moed verloor nie. Moenie ander afkraak nie ondersteun en motiveer jou spanmaats.”
Selfs vandag nog is Doppies elke oefenaand en wedstryd teenwoordig altyd bereid om ’n helpende hand of bemoedigende woord te gee.
Sy boodskap aan die manne vir die groot wedstryd teen die span wat hulle tien jaar gelede in die Grootuitdaag-finaal geklop het, is eenvoudig maar kragtig: “Speel wen-rugby. Doen die basiese goed reg soos wat julle geoefen het. Speel as ’n span en gee julle beste vir Malmesbury en vir die kinders wat na julle opkyk.”



