Die Sanlam Boland Kavaliers se hoofafrigter, Hawies Fourie, het sy span aangekondig wat Saterdag in die Carling Curriebeker teen die Hollywoodbets Sharks XV in Pietermaritzburg gaan speel.

Fourie het vyf veranderinge aan die beginspan aangebring wat verlede Vrydag die Airlink Pumas in Mbombela geklop het.

Volgens die Kavaliers-breier is van die veranderings aangebring weens beserings. Daar is ook Sauliegh Arendse en Erik Lambrecht wat hul plek in die beginspan oopgespeel het.

Die losskakel Ashlon Davids is buite aksie nadat hy verlede week in Mbombela ’n kniebesering opgedoen het. Daar is egter ook ‘n brokkie goeie nuus met die vleuel Donovan Don, wie die toernooi se voorste drieëdrukker met sewe drieë in slegs vier wedstryde is, wie terugkeer ná die kniebesering wat hy in rondte vier teen die Bulle opgedoen het.

Onder die voorspelersgroep kom Arendse in op oopkantflank, met Khwezi Mafu wat na die bank skuif. Sidney Tobias keer terug as die begin-haker nadat hy teen die Pumas ‘n ruskans gegun is, met HP van Schoor wat op die bank is.

Agterlangs vervang Juan Mostert vir Davids op losskakel, terwyl die veelsydige Lambrecht beloon word vir sy goeie vertoning teen die Pumas met ’n plek in die beginspan op buitesenter. David Brits skuif gevolglik na die bank. Op regtervleuel neem Don die plek van Marcqiewn Titus, met die heelagter Domenic Smit op die plaasvervanger bank.

Saterdag se wedstryd sal nie by Kings Park, die Sharks se tradisionele tuiste, plaasvind nie, maar wel by die Woodburn Stadion in Pietermaritzburg. Afskop is om 17:10 met Dylen November as die skeidsregter.

SANLAM BOLAND KAVALIERS: 15 James Tedder, 14 Donovan Don, 13 Erik Lambrecht, 12 Lunathi Nxele, 11 Xavier Mitchell, 10 Juan Mostert, 9 Louis Schreuder, 8 Thurlow Marsh (kaptein), 7 Sibusiso Sangweni, 6 Sauliegh Arendse, 5 Jurie van Vuuren, 4 Michael Benadie, 3 Dayan van der Westhuizen, 2 Sidney Tobias, 1 Wayrin Losper. PLAASVERVANGERS: 16 HP van Schoor, 17 Mthokozisi Gumede, 18 Laurence Victor, 19 Ameer Hendricks, 20 Khwezi Mafu, 21 Godlen Masimla, 22 David Brits, 23 Domenic Smit