deur Davie Lawrence
Die vier beste in vanjaar se Sanlam Boland Top 12 spook op 16 November sake uit in Wellington vir ‘n plek in die finaal.
Die spanne is paraat en die publiek wag in spanning en hulle gaan in hul duisende optrek by die Sanlam Boland Stadium. Benewens hierdie semi-finale is daar ook van vroeg dag af klomp aksie met die Super16, Super10, en Super8 spanne wat ook gaan meeding vir hul plekke in die onderskei finale volgende week.
In ons vroeë afskop om 14h30 pak Caledon vir verlede jaar se naaswenners, Robertson in die eerste Sanlam Boland Top 12 semi-finaal. Caledon was die wenners van groep A, terwyl Robertson tweede was in Groep B die rondomtalie wedstryde afgesluit het.
“Ons is slagsgereed vir die game Saterdag, die manne weet presies wat van hulle verwag word en hulle sal die plan moet gaan uitvoer,” het Caledon se hoofafrigter, Herschelle van Aswegen laat hoor. “Ook bygesê die span vir die semi-finaal kon laas week lekker rus en is honger om die gemeenskap te gaan trots maak.”
Uitklop wedstryde vir hierdie bulspanne is nie iets nuut nie en hulle weet wat dit vat om semi-finale te wen, albei het deurgedring na die finale in hul laaste semi-finaal verskynings. Verlede jaar het Robertson vir Roses United 32-30 geklop, terwyl Caledon in 2019 vir Darling 42-35 geklop het. Dit sal die naweek die twee spanne se eerste keer wees dat hulle met mekaar swaarde sal kruis.
Vir Robertson Town en sy 1.8 miljoen ondersteuners was verlede naweek se naelskrap oorwinning oor Safcol United iets wat nie op ‘n meer gepaste tyd kon gebeur het nie. Hoof yster van die coaches by Town, John Booysen is van mening dat hierdie keer dinge in plek val vir Town en dat die lot in hulle eie hande is.
“Robertson Town is positief vir die semi-finaal van die Sanlam Boland Top 12,” het Booysen gesê. “Dit is kompleet ‘n gevoel van dit is ons beurt. Ongeag die onsekerheid rondom die drie bloukaarte, bly ons steeds positief dat ons genoeg skietgoed sal hê om Caledon die hoof te bied. Robertson sal Saterdag leeg wees soos die 1.8 miljoen die tog na Wellington sal aandurf. We Care for White and the Blue.”
Die verdedigende kampioen Safcol sal om 16h30 koppe stamp met Villagers Worcester in ‘n wedstryd wat beloof om vir baie opwinding te sorg. Dit sal ook die eerste keer wees dat hierdie twee reuse mekaar die stryd gaan aan sê.
“Gisteraand [Dinsdag aand] goeie sessie gehad, vannaand die harde een, maar totdusvêr baie goed,” het Brendon Cloete, hoof afrigter van Safcol gesê. “Behalwe die 50/50 nou maar sal van vannaand beslis weet, wat gaan vir wat.”
Villagers Worcester is ‘n viermalige kampioen en het nog net een keer in ‘n semi-finaal op Boland Stadium vasgeval. Op sy beurt het Safcol vriend en vyand verras, toe hy verlede seisoen die Sanlam Boland Top 12 titel ingepalm in sy eerste verskyning in die roemryke kompetisie.
Alridge Mecuur, hoof afrigter by Villa het nog ‘n paar boksies op af te merk alvorens sy span heeltemal wedstryd gereed sal wees.
“Voorbereiding vorder goed net 2 beserings wat ons hoop gaan reg wees,” het Mercuur vertel. “Die fisio werk hard daaraan. Die mental session het ook goed gegaan gisteraand [Dinsdag aand]. Ja ons het nie gedink ons gaan nou al in die semifinal wees nie maar ons is nou daar en ek is baie opgewonde vir die groep en vir die uitdaging saterdag. Ons soek die W [wen].”
Die tafel is gedek vir ‘n groot dag van rugby, rugbyliefhebbers kan kom aan tafel sit, en geniet wat opgedis gaan word.