Young Hamiltons verwelkom Bella Vista, terwyl Darling die kampioen aanpak

Deur: Davie Lawrence | Foto: Lizette Smit

Indien week een enige aanduiding van wat verwag kan word van die Sanlam Boland Top12, gaan dinge beslis in week twee opwindende aksie oplewer. Na hierdie naweek sal al 12 spanne ‘n tuiswedstryd agter die rug het. Al 33 wedstryde word regstreeks uitgesaai op www.bolandrugby.co.za.

In ons wedstryde wat 15h00 afskop – en daar is drie – is daar groot tweestryde. Die verdedigende kampioen Saldanha en Darling kyk mekaar vierkantig in die oë in ‘n moet wen wedstryd vir albei spanne, dit nadat Darling teen Hawston op tuisbodem vasgeval het en Saldanha met een-punt teen Robertson Town in Robertson verloor het.

Op Wellington gaan die vonke behoorlik spat wanneer Roses United vir Town verwelkom, beide het seges verlede naweek behaal en sal beslis daardie momentum wil behou. Safcol United reis na Clanwilliam en sal poog om dit twee uit twee te maak wanneer hulle Delicious NW op sy tuisveld aanvat. Delicious het verlede naweek moedig probeer in Ceres teen verlde jaar se finaliste, Bella Vista, maar is leë hande huistoe gestuur. Die span van Clanwilliam sal dus op hul tuisveld n baie beter vertoning wil lewer en liga punte wil optel.

Vanrhynsdorp Eagles moet 400km die naweek reis om Hawston om 17h00 aan te pak, die tuisspan het verlede naweek maksimum punte opgetel weg van die huis as teen Darling en sal met hierdie self-vertroue weer sy visier instel om vyf liga punte in te palm. ‘n Groot stryd wag in Worcester wanneer Bella Vista vir Young Hamiltons besoek. Beide spanne was aan die wenkant verlede naweek en wie ookal die stryd gaan wen, gaan homself ‘n helse guns doen en een stap nader om te kwalifiseer vir die semi-finale.

Wesbank en Mamre het die onderspit gedelf in die eerste rondte en sal vinnig op die wenpad wil kom wanneer die twee op Malmesbury swaarde kruis. Die is ‘n wedstryd wat altwee spanne nie wil verloor nie want dit sal beteken dat die hoop op ‘n plek in die semi-finaal ‘n massiewe knou kry.

Die tafel is gedek vir n groot naweek in die Sanlam Boland Top12, maak seker u mis nie die aksie alle wedstryde word op www.bolandrugby.co.za regstreeks uitgesaai.