Diamante word gevorm onder hewige en drastiese omstandighede waarvolgens ‘n rots gebreek moet word om uit te kom by die glans, geslypte, en onskatbare diamantsteen.
Hierdie storie is een wat vertel word deur voormalige Mountain Stars rugbyspeler en huidige Villagers Worcester talentvolle speler, Karel Tarentaal:
Ek is `n trotse plaaswerker, `n onbesonge held wat onvermoeid daagliks verskillende uitdagings trotseer om `n beter lewe vir my familie te skep.
Ek swoeg dag in en dag uit, deur reën of sonskyn, om seker te maak dat ek uitstyg bokant die omstandighede van die plaaslewe waarmee ek konfronteer word.
Deel van my gesonde leefstyl-benadering was om op die plaas vir Mountain Stars rugby te speel vir 5 jaar en dus gedurende die tydperk dat ek gedroom het om eendag in die Grootuitdaag kompetisie te speel. Tydens `n wedstryd gedurende 2022, is ek genader deur `n Villagers Worcester bestuurslid wat vir my genoem het.
“Jy is `n rowwe diamant, jy kort afronding en finesse en slegs by Villagers Worcester sal ons jou slyp totdat jy diamantstatus verkry.”
Dit was 2023 toe ek, as rowwe diamant, die uitdaging aanvaar het van Villagers Worcester om daar geslyp te word. Die lewe op die plaas het my geleer dat dit ‘n skool van geduld is want jy kan nie die gewasse haastig maak of ryp druk en verwag dit moet binne twee dae `n uitvoerproduk wees.
Met die ingesteldheid het ek daagliks, direk `n dag se hardewerk, twee taxi’s geneem uit De Doorns, geklee in my overall en `n sakkie met oefen klere, asvaal van die stof, Boland Park binne gekom, gereed om deur die slypers geslyp te word. Vandag besef ek dat daardie smeltingsproses was die moeitewerd.
Twyfel het my laat wonder of Villagers Worcester my hardewerk, deursettingsvermoë en onwrikbare toewyding aan die klub, raak sien of gaan ek wat geen status het weereens aan die laaste speen moet suig. Toe ek dit die minste verwag, roep mnr Mercuur (hoofafrigter) my en sê: “ Tarentaal, kanse kom min, gryp dit aan, gaan oefen by die eerste span”.

My binneste wou bars van trots, maar ek het vir my self gesê: “ `n Tarentaal is `n geduldige jagvoël en slaan toe wanneer sy prooi dit die minste verwag – vra maar my teenstaanders op die rugbyveld, meeste ervaar nou nog nagmerries en koue rillings. Sedert daardie dag,
het ek nooit weer teruggekyk. Die smeltkroes waardeur ek moes gaan, was vir my `n pynlike ervaring, maar die slypingsproses het my in totaliteit `n beter diamant gemaak.
Wendell Wehr, my motiveerder en inspireerder, herinner my altyd dat suskes gaan nie altyd oor grootsheid nie. Dit gaan oor konsekwentheid. Dit is konsekwente harde werk wat lei tot sukses. Grootheid sal kom, en dis wat ek by Villagers Worcester kom leer het.
My geliefkoosde Bybel vers is: “Diegene wat te lui is om in die regte seisoen te ploeg, sal geen kos by die oes hê nie” (Spreuke 20:4). Hierdie vers laat my terugdink waar ons klub was in 2023 en waar ons nou is – die sesoen van oes want ons hardewerk sal beloon word. `n Bietjie meer volharding, `n bietjie meer moeite en wat na hopelose mislukkings gelyk het, het nou tot glorieryke sukses verander en so gaan die slypingsproses van die rowwe diamant voort en vertrou ek dat die glans wat ek afgee, alle ondersteuners se harte verwarm.