Sambabas en Stadlers trap diep spore by Mamre

AS daar nou ’n rugbyklub is wat homself kan roem op ’n hegte familiebond is dit sekerlik Mamre.

En wanneer dit kom by familie en Mamre het die Sambaba-gesin beslis groot bygedra tot op dié Boland Groot Uitdaag-klub.

Soveel so dat Bernette Stadler (nooiensvan Sambaba) dit amper nog soos gister kan onthou hoe haar wyle pa, Paul, die grondwerk agter die skerms gedoen het om te verseker alles verloop vlot op wedstryddae en ander klubgeleenthede.

“My pa was destyds die coach gewees en dan was hy ook ’n ere-president van Mamre-klub. Sy twee broers het gespeel vir Mamre, dan het my oudste broer Ronald het ook gedien op die bestuur van Mamre en was ook vir jare ’n ref (skeidsregter) in die Boland,” vertel Bernette.

“Ons het sommer in die pad voor die veld gebly, so my pa het dit sommer op homself geneem om aan die begin van ’n seisoen en gedurende ’n seisoen seker te maak die (kalk)lyne op die word reg gegooi en die stadion word in stand gehou – amper soos ’n opsigter.

“Vir ons familie is elke Saterdag rugby. As daar weg van die huis gespeel word, dan gaan die hele familie uit met die bus en die hele familie gaan uit op die veld as daar rugby gespeel word. Ek het altyd saam met my pa veld toe gegaan op ’n Dinsdag en Donderdag as daar geoefen word. Dit was al wat ons geken het… rugby.”

So aansteeklik is die Sambaba-gesin se liefde vir rugby en Mamre-klub dat Bernette self danksy dié sport die liefde van haar lewe en jarelange eggenoot sou vind en ’n voorstander van klubrugby by Mamre maak.

En dié liefde het sommer op die skoolbanke begin pos vat, toe sy en Kennith Stadler mekaar die eerste keer die blou in mekaar se oë probeer raaksien.

Foto: Lathim, Bernette, en Kennith Stadler.

“Ek en Kenny ken mekaar al nou al vir 28 jaar,” gaan sy verder. “Hy en my broer was saam op skool en hy kom actually van Darling, maar ons het mekaar toe by Robinvale High ontmoet. Kenny het toe begin speel vir Mamre en so is ons toe later ook getroud. Ons het vier kinders saam, waarvan die oudste, Caine, by CPUT studeer en rugby (Varsity Shield) speel.

“Hy (Kenny) het vroeer die jaar besluit hy is nou klaar met rugby speel toe hy ’n skoueroperasie moes ondergaan. So terwyl hy nog gespeel het, was hy ook met coaching by ons sewesspan betrokke en ook so bietjie afrigting by ons eerstespan gedoen, waar hy meestal met die forwards gewerk het.

“Vroeër die jaar het daar groot veranderinge gekom en is daar besluit om nuwe coaches aan te stel, met Kenny wat toe as die hoofafrigter oorgeneem het.”

Bernette self is nie net betrokke as een van die grootste ondersteuners van Mamre-klub nie.

Sy is sedert 2020 aangestel as die klub se sekretaris nadat sy voorheen ook gedien het as ’n lid van die funksie-komitee.

Intussen blyk dit ook Kennith het die regte besluit geneem om die toks weg te pak en sy kennis van die spel met die spelers te dien, met Mamre wat dié jaar hul gootste verwagtinge oortref het.

Dit was om vir die Boland Groot Uitdaag se Sanlam Boland Top12 te kwalifiseer nadat hulle uit ’n baie kompeterende Weskus-streek daarvoor gekwalifiseer het.

Ofskoon Mamre net een game gewen het gedurende dié Sanlam Boland Top12, was dit volgens Bernette genoeg vir die klubs om te kan droom van groter sukses in toekomstige seisoene.

“Om deel te kon wees van die Sanlam Boland Top12 was vir ons heeltemal iets anders,”verduidelik sy. Om te weet jy het sukses behaal en kon voel wat dit is om aan die Sanlam Boland Top12 deel te neem, was fantasties. Ons het as klub in 2013 – toe dit nog die Top-8 was – daarvoor gekwalifiseer. So 10 jaar later het ons die Sanlam Boland Top12 gehaal maar nou wil ons gaan seker maak dit word ’n gereelde ding en daar word na hoër sukses (die Groot Uitdaagbeker) gemik.”

Ofskoon daar by Mamre na goter sukses gestrewe word, is een van Bernette se trotse oomblikke nog toe sy sien hoe haar man en seun (Caine) saam vir Mamre-klub in ’n wedstryd kon uitdraf.

“Joh, woorde kan dit steeds nie vir my beskryf nie. Ek het onlangs net vir iemand gesê as my pa net kon geleef het om daardie moment te kon sien, sou vir my nog groter gewees het.

“Kyk daar was op daai dag nie woorde nie, net die trane wat so by my wang afgerol het.”