Saffies fokus op meer as net rugby meen kookwater heelagter, Connor Mahoney

‘n Geestelike kultuur is deels agter Safcol se sukses in die ligafase van vanjaar se Sanlam Boland Top12-reeks, sê hul heelagter-ster, Connor Mahoney.

Die 22-jarige Mahoney – ‘n groot uitblinker met die bal in die hand in ‘n onoorwonne veldtog tot dusver – het in ‘n onderhoud die sluier gelig oor hoe daar buite rugby ook aan die spelers as mense geslyp word.

@bolandrugbyunion

CONOR MAHONEY, jou doring! Die man trap seker af in die appelboorde. Die week se @tekkie_town play of the day in die @saffiesrugby teen @young_hamiltons_rfc @sanlam_group Boland Top12 wedstryd. #sbt12 #sbt12santamproper #sbt12tekkietown #sbt12vuma #sbt12vironsplek

♬ Dramatic Military – Faid rafanda
TRENDING: Connor Mahoney scoring a 60-metre solo try in Round Three of the Sanlam Boland Top12. Source: https://www.tiktok.com/@bolandrugbyunion | NH Sports TV

“Ons het nou iets in ons klub waar spelers om die beurt Saterdae-oggende die Woord gee. Die een gee die Woord en een gaan bid,” vertel Mahoney, wat destyds in die Bulle se ouderdomsgroepe was en ook al ’n draai by die Blitsbokke gemaak het.

“Dis wat Saffies nie verlede jaar gehad het nie. As jy God aan jou kant het, kan jy enigiets trotseer. Om God deel van ons toekoms te maak, is ‘n baie goeie ding. Ons kan sien dat ons die vrugte daarvan pluk. Ons word baie goed afgerig. Jy groei as speler én mens,” sê hy.

Volgens Mahoney word ‘n tema vir die week uit afrigtingsgeledere aan ‘n speler gegee.

“Soos ‘wees sterk’. Dan moet jy ‘n versie in die Bybel gaan vind waar daar gepraat word oor sterk wees. Jy moet dit dan lees en bid oor waaroor daardie versie gaan. Elke speler kry ‘n geleentheid om ‘n versie vir die span te lees,” sê hy.

Dié gebruik vind plaas op Saterdae-oggende, voordat die span later die middag speel, hetsy dit in kompetisie of in vriendskaplike wedstryde is.

Op die speelveld word Mahoney nou fyn deur teenstanders dopgehou, maar hy is heel gemaklik daarmee omdat dit vir spanmaats ruimte kan skep.

“Dit het verlede Saterdag (in die wen van 23-17 oor Bella Vista) gebeur. Daar was ‘n oomblik waar 4 ouens op my toegesak het toe ek die bal gehad het. Ek het al vier getrek en die bal uitgegee, toe druk ons. Duidelik was ek ‘n teiken. Hulle het vergeet dat daar 14 ander ouens in ons span is! Ek sal vir 80 minute maar die pyn vat.”

Oor hoe hy daarin slaag om soveel teenstanders te klop, sê Mahoney dat dit vernaam danksy visie is.

“Ek sien baie vinnig iets raak. As daar ‘n stut is wat moeg lyk, sal ek daar hardloop. Ek kyk uit vir die vettetjies. Dis maar 1 uit 10 keer dat ‘n stut ‘n heelagter gaan vang,” vertel hy.

Brendon Cloete, afrigter van Safcol, praat met die grootste lof oor Mahoney.

“Connor is ‘n x-faktor speler,” sê Cloete. “Sy visie om die gapings raak te sien … dis ‘n speler wat ‘n gawe het. Min ouens beskik oor daardie talent.”