Deur Davie Lawrence | Foto: Syd Armoed
Daar is nog sewe spanne wat hierdie naweek kans het om te kwalifiseer vir hierdie jaar se Sanlam Boland Top12 semi-finale wedstryde. Dit word op 25 November in Wellington op Boland Park gespeel met elke wedstryd wat regstreeks uitgesaai word hier op die Boland Rugby se webtuiste.
Kom ons kyk hoe lyk die spanne se kanse om by Robertson Town en Safcol United aan te sluit.
Foto: Deon Julies
Groep A
Saldanha Baai kort ‘n bonuspunt oorwinning teen Hawston die naweek, maar sou die wenner van Roses United en Darling nie n bonuspunt oorwinning behaal nie, dan sal ‘n wen sonder ‘n bonuspunt vir die verdedigende kampioene genoeg wees om deur te dring na volgende naweek (25 November) se semi-finale.
Vir Darling sal ‘n sege oor Roses United genoeg wees mits Saldanha Baai vasval teen Hawston. Darling se punteverskil kolom is baie swakker as Saldanha Baai sin, so die Swartland kampioene moet hoop Saldanha verloor of wen sonder n bonuspunt. Maar, dan gaan hulle moet wen met ‘n bonuspunt teen Roses United.
So gepraat van Roses United, hulle moet vir Darling wen en hoop Saldanha Baai val vas of wen sonder om ‘n bonuspunt op te tel, maar dan gaan die span van Wellington vir Darling met ‘n bonuspunt moet wen.
Hawston moet vir Saldanha Baai met n bonuspunt wen en hoop Darling en Roses United speel gelykop. As daar ‘n wenner op Darling gaan wees, beteken dit Hawston word uitgeskakel al wen hulle vir Saldanha baai.
Eagles is alreeds uit die semi finale.
Foto: Bernadette Louw
Kom ons kyk na Groep B, Wesbank kort net een ligapunt om vir die semi-finaal te kwalifiseer.
Bella Vista moet vir Wesbank wen nie net met ‘n bonuspunt nie, maar met meer as agt punte om vir die manne van Malmesbury te ontneem van enige ligapunte. Boonop sal Bella Vista hoop Young Hamiltons kry nie n bonuswen op Clanwilliam, teen Delicious NW, met n groot punteverskil nie.
Young Hamiltons kort n bonuspunt wen teen Delicious NW en moet dan hoop Wesbank tel geen ligapunte op teen Bella Vista nie. Die span van Esselen Park moet dan verder hoop Bella Vista behaal nie n bonuspunt sege nie, sou Bella Vista nie bonuspunt oorwinning optel nie en Young Hamiltons wen wel met ‘n bonuspunt is Hammies deur na semi-finale.
Mamre en Delicious NW kan nie kwalifiseer vir semi-finale nie.