Foto: Renaldo Ruiters
Wie’s daai kranige stut van Robertson Town wat soos ’n senter die lyn sny en dan ala Sonny-Bill Willams nog die bal kan off-load?
Daai’s Jasherie Karriem, hoe kan jy dan nie daai man ken nie?
So het ’n onlangse gesprek oor Town se kranige voorryman begin nadat ’n video van hom wat teenstanders in die Sanlam Boland Top-12 uit die pad hardloop en dan sommer ’n paar weghardloop, voor hy die bal met een hand off-load, gedreig het om die internet te breek.
“Toe ek self Saterdag van die veld af kom en my foon optel was daar seker al klaar 250 Whatsapp-boodskappe daarop,” vertel die 44-jarige Karriem. Ja, hy is al 44 jaar oud, maar die wat hom nie ken nie sal sweer hy is nog in sy middel 20s vir die manier waarop hy nog teenstanders kan laat bontstaan op ’n rugbyveld.
Boonop sou die video van hom breekslag beslis Town se groot teenstander in hierdie naweek se eindstryd van die Boland Groot Uitdaag se Top-12, Safcol United, se aandag getrek het, as ’n potensiële gevaar vir die Grabouwers se aanslag op dié kroon.
Karriem, is egter gou om te sê dat sulke kraglopies nie iets is wat hy in wedstryde opsoek nie.
“Ek ken my core roles. Dit is om seker te maak ek skrum goed, kry my springers by die bal uit in die lynstane en om seker te maak ek maak ordentlik skoon by die rucks,” verduidelik hy. “Daai ander goed, soos die bal opdra, is goed wat maar natuurlik kom en ek moet seker maar die Man van Bo bedank dat ek op so manier raak gesien was en nou erkenning ontvang.”
Stut speel was egter nie waar Karriem se loopbaan begin het nie. Vanaf skooldae was hy ’n agtsteman waar hy die Boland Rugbyunie in die Cravenweek verteenwoordig het. Sy eerste tree in klubrugby het as speler vir Collegians (Westelike Provinsie) in die vroeë 2000’s begin, voor hy in 2003 die skuif na Worcester Villagers sou maak.
Karriem het ook in 2011 vir een seisoen onder coach Deon Davids (tans Springbok-hulpafrigter) vir die Universiteit Wes-Kaapland (UWK) in die Varsity Shield gespeel. Ná twee seisoene by NTK (Parow) in die Westelike Provinsie het Karriem toe sy terugkeer tot Villagers in Worcester gemaak, voor hy die jaar ’n skuif na Robertson Town sou maak.
Oor wat sy geheim is vir so lank op die top-vlak klubrugby speel sê Karriem: “Wat ek kan sê is, as jy bereid is om daai ekstra effort in te sit, en nie net wag om op die aande wat daar geoefen word die werk in te sit nie, dan kan jy so lang loopbaan in dié sport het.
“Omdat ek in die Suid-Afrikaanse Polisidiens (SAPS) as ’n sersant werksaam is, beteken dit ek werk skofte. So daar is tyd om daai ekstra in te sit. Ek gaan draf elke oggend en gaan gym toe. Dit is maar my daaglikse roetine, tensy ek nie dagskof werk nie.
“Dan kan ek ook sê my spanmaats by Town spoor mens aan, daar is baie commitment van hulle kant af. So ek is nie in die oggende alleen op die veld of in die gym nie. Hulle is deel van saam gaan oefen.”
En die spoed waarmee hy opposisie so onkant vang? “Daai geheim kan ek nou nie deel nie, want dit is deel van die sursprise package,” grap hy. Vir Saterdag se eindstryd in die Boland-stadion in Wellington, sê Karriem is hy en sy spanmaats meer as gelukkig om dit as die underdogs te betree.
“Al wat ek kan sê is dat ons as Robertson Town hierdie finaal met nederigheid betree. Dit beteken nie ons is nie postief oor ons kanse nie, maar soos jy weet praat almal mos maar van Safcol United as die gunsteling. Hul naam is op almal se lippe, so wat ons kan sê is ons sal maar sien wat Saterdag tussen die vier lyne gebeur.
“Ons praat glad nie vooruit nie, ons gaan tussen die vier lyne die wa deur die drif probeer trek. Safcol is vir ons ‘n onbekende span, en as jy gaan kyk na die spelers wat hulle daar het, is dit nie manne wat ons al gereeld teen gespeel het nie. Hulle speel baie goeie rugby. Ek volg hulle al die hele jaar en ek moet sê daar is iets goeds aan die gebeur daar.
“Dit verg baie om ‘n Saldanha-toernooi te wen en dan ook in die liga so goed te doen. Wat spelers betref is hulle ’n onbekende faktor, so dit is moeilik om hulle te ontleed. Ek dink Saterdag se stryd gaan lekker hard wees. Dit is twee fisieke spanne wat teen mekaar te staan gaan kom,” sluit hy af.
Ofskoon Karriem in die fleur van sy jare nou wel nie meer kan droom van provinsiaal speel nie, is hy trots om te sien hoe klubrugby in die Boland nou ‘n vlak bereik het waar daar vir die jonger spelers ’n geleentheid geskep word om raakgesien te word.
“Dit is die eerste keer wat dit op so hoë vlak aangebied word. Laas jaar was ook groot, maar mens kan sien dit is hierdie jaar na daai volgende vlak geneem en mense is opgewonde daaroor. Behalwe vir die bywoon van wedstryde is daar meer mense wat op TV en selfs via streaming daarna kyk.
“Die manne voel nou hulle word raakgesien.”
Die eerste wedstryd begin om 10h00 af met die Sanlam Boland Top12 finaal wat 16h00 afskop. Kaartjies beloop slegs R40 vir volwassenes, R20 vir kinders, en R20 vir parkering (beperkte parkering, so kom vroeg om teleurstelling te vermy).