Deur Kenton Kiewiets | Foto: Verskaf
Randall Opperman het in 1999 besluit om by Bella Vista aan te sluit. Dit aanmelding by die klub was die vervulling van ‘n belofte wat hy in standaard sewe (graad nege) gemaak het aan twee mense, Pat en Gammat. Hy het daardie jaar by die derde span aangesluit. Hy het in Ceres grootgeword op ‘n plaas genaamd Morceaux.
Hy het hoërskool by Bella Vista voltooi. Daarna is hy Worcester Kollege toe, wat deesdae bekend staan as Boland Kollege, waar hy Landbou studeer het.
Sy peetpa, Abraham “Abe” Prins, het gehelp om Bella Vista rugbyklub te begin
Opperman is geweldig trots en ag dit as ‘n voorreg om saam met van sy hoërskool vriende te speel.
“By Bella Vista rugbyklub werk ek toe baie saam met die groot manne soos wyle oom Buffel, German, en Sakkie Lindtsas. Sowel as top spelers soos John Daniels, oom Bugs, Denver de Kock, en Micheal Yser Johannes. Daar is ook baie hegte vriendskapsbande tussen ek en die huidige afrigters, Divan [Paulse] en Jonathan [Fredericks], ontwikkel.
“Bella Vista Rugbyklub was regtig goed en het amper elke keer tot die Top 8 deurgedring. In 2004 het hulle hul beste jaar ooit beleef. Die Grabouw Rugbyklub was destyds hul grootste mededinger.”
Opperman is tans ‘n keurder van sy geliefde Bella span waar sy opinie nog broodnodig is, en hy is altyd bereid om te help.
“Bella Vista is my gemeenskap waar ek met die klubkultuur kan identifiseer. Jy ervaar soveel liefde in jou gemeenskap. By die Bella Vista word jy nie net as ‘n jong man gevorm nie, maar ook as ‘n leier.”
Opperman het die eerstespan gelei as kaptein vanaf 2006 tot die 2013 seisoen. In 2013 het ‘n besering hom gedwing tot die kantlyn, waarna Adrian Mars oorgeneem het as kaptein.
Hy het ‘n spesiale boodskap vir die huidige sowel en toekomstige Bella spelers sowel as die gemeenskap waaruit Bella Vista Rugbyklub bestaan.
“Belê vroeg in ons seuns en dogters sodat hulle reg goed ontwikkel. Wyle meneer Wilschutte het gesê dat ‘n gesonde liggaam huisves ‘n gesonde siel”. Daar is ‘n bekende Engelse spreekwoord “a child in sport is a child out of court”, en dit moet altyd voor oë gehou word.”