Deur William Mugal

Hy is altyd in die agtergrond besig om dinge in plek te kry en te verseker dat alles glad loop op wedstryd dae. Dit is die werk van Saldanha Bay RVK legende, Frank September. Daar is ‘n gesegde in Engels wat lui ‘he is a vital cog in the machine’, en in die goed geoliede masjien van Saldanha is die September beslis legendaries.

Frank vertel hy het sy rugby speeldae begin by die eertydse Saldanha Marines in 1987 in die tweede span op buite senter.

“Ek kon egter nie verder as een seisoen speel as gevolg van my werksomstandighede wat my verplig het om oor naweke te werk,” vertel September nostalgies. “Dit het natuurlik my rugbyloopbaan tot n stilstand gebring. Daar was wel in 2006 waar ek weer my gewig by Saldanhabaai rugbyklub ingooi, waar ek en die huidige spanbestuurder van die eerste span, Coby van Wyk, as afrigters van die derde span gedien het.”

In daarop volgende jaar het van Wyk bevordering na die tweede span en September was van daar af die hoofafrigter.

Frank September. Photo credit: Supplied

“Coby het aanbeweeg na die tweede span toe, ek het toe alleen afgerig. Ons het in 2009 die Weskus liga titel wen. Iets waaroor ek baie trots is.”

September het in 2013 en 2014 twee hartaanvalle ervaar en moes uit die aard van die saak bedank uit sy pos as hoofafrigter, maar is ‘n paar jaar later weer terug in tuig om Saldanha aan te help en sy alles te gee vir sy klub.

“Ek moes as afrigter bedank ter wille van my gesondheid, maar alle eer aan die Here vir die herstel van my gesondheid want ek kon weer in 2019 betrokke raak by die klub, die keer as Trustee. Waar ek verantwoordelikheid neem vir die toerusting van die klub. Dit is ‘n pos wat ek nogsteeds in dien en dit verskaf my besonderse genot om nog deel te wees van die gesogde klub.”

Frank weet wat beteken ‘n kompetisie soos die Sanlam Boland Top 12 vir die klubs en dorpe in die Boland, en dit is veral noemenswaardig om te deel, dat Frank deel was van die klub toe Saldanha die beker in 2019 en 2022 beklink het. Hy glo dat dit vir Saldanha beskore is om geskiedenis te maak en in die annalle van Boland Rugby die eerste span te word om die Sanlam Boland Top 12 drie keer te wen. Net Worcester Villagers het die toernooi saam met Saldanha al twee keer gewen.

“Die [Sanlam Boland] Top 12 kompetisie van Boland verskaf die top klubs van die unie elke jaar geleentheid om teen mekaar te kompeteer, ongeag van die afstande wat gery word om as Boland kampioen gekroon te word. ‘n Voorreg wat ek darem nou al twee maal geproe het as deel van die span.

“Vir Saldanhabaai rugbyklub se spelers is die 2023 Top12, die geleentheid om die geskiedenis boeke te herskryf deur die kompetisie drie keer te wen. Ek het volle vertroue in die groep spelers om die Saldanha gemeenskap trots te maak en die Top 12 kompetisie weer te wen.”