Foto: Sydney Armoed

Vergeet van nét Connor Mahoney. Robertson Town sal ook hul huiswerk moet doen oor hoe om ‘n teenvoeter vir die Safcol United-generaal Lehnrho Julies te vind in Saterdag se Sanlam Boland Top12-eindstryd in Wellington.

Kaartjies vir Saterdag se wedstryde beloop R40 vir volwassenes, R20 vir kinders, en R20 vir parkering. Een kaartjie se aankoop ontsluit vier top Boland finale. Kom vroeg en kry ‘n goeie uitsig van die wedstryd!

Foto: Tersia van der Westhuizen

Julies het uit sy vel gespeel in Safcol United se oorwinning van 68-38 in hul halfeindstryd teen Darling en groot lof van sy afrigter, Brendon Cloete, ontvang.

“Hy was eintlik geoogmerk as ons binnesenter, maar omstandighede met ‘n besering het ons laat besluit om hom op losskakel te kies. Hy was Saterdag so ‘n absoluut afgeronde losskakel as wat jy ooit sal sien,” vertel Cloete.

“Toe hy spel begin dikteer, die bal agter Darling sit en ons op die voorvoet hou, was daar nie omdraaikans nie. Hy het geplace, ge-drop en ge-score … alles!”

Om soveel punte (33) in ‘n uitspeelwedstryd aan te teken wil gedoen wees en Saffies sal waarskynlik as die gunsteling gereken word vir die eindstryd.

@bolandrugbyunion

Dan Biggar for what? We have our very own @SAFFIES RUGBY’s Lehnrho Julies doing his pre-conversion attempt jive. Only in the @Sanlam Boland Top12 #SAMA28 #sbt12vironsplek #sbt12 #sbt12vuma #sbt12umbro #sbt12santamproper #fyp #sbt12tekkietown

♬ LET’S MACARENA – Napbak
Lehnrho Julies met sy dans-roetine voor elke doelskoppoging

Cloete is heel verstaanbaar in sy noppies met sy span se opwindende spel.

“As jy kyk na die ouens se ondersteunende spel en lyne wat hulle gehardloop het, sal jy in al die drieë sien dat daar altyd ’n man op die baldraer se skouer was om die bal te ontvang,” sê Cloete.

“Ons is ‘n baie aanvallende span. Die ouens val ruimte goed aan en vind maniere om dit vir die buiteagterspelers te skep. Ons het ook baie beweeglike voorspelers met goeie hande. Ons swaar manne bring hul kant!”

Cloete meen dis belangrik vir sy spelers om hulself te kan uitleef eerder as om hulle in ’n oorgestruktureerde dwangbuis te plaas.

“Ons het strukture in plek van wat ons graag wil doen ­- hoe ons van ons vaste fasette af wil aanval en hoe ons graag wil verdedig. Ons het sekere dinge in plek, maar as dit kom by spel met bal in die hand en ons oor voorspelers met vaardighede beskik, hoekom dit nie gebruik nie?

“Hoekom sal jy hulle deur fases wil laat hardloop waneer jy hulle in ruimte kan kry en hul hande die werk kan laat doen?”

Cloete gee die spelers ook krediet vir hul gees van samewerking. Oor Robertson Town sê Cloete dat hulle oor baie groot voorspelers beskik en “direk” speel.

“Dis nooit maanskyn en rose nie,” sê hy. “Elke een het maar sy dingetjies wat pla, maar as hulle op die veld kom, is dit magic. Hulle het ‘n aanvoeling vir mekaar, ‘n voorgevoel vir wat die volgende ou gaan doen.”

“Ons sal ’n plan in plek moet sit om dit hok te slaan,” sê hy.

Safcol kan nie wag om op te draf nie.

“Albei spanne was onoorwonne in die groepfase en almal wou ‘n eindstryd tussen Safcol en Robertson Town sien. Wel, hy is Saterdag op ons! Onoorwonne rekords en wat vroeër in die seisoen gebeur het, tel nou vir niks. Al wat nou tel is wat in daardie 80 minute gebeur.”

“Saterdag se wedstryd is vir ons die belangrikste. Die toppunt van ons doelwit vir die hele jaar is voor ons.”