Gebore en getoë in Paarl, die jongste van twee kinders, Colin April lei die span as kaptein in die klub se geskiedkundige eerste buiging in die Sanlam Boland Top 12.

‘n Kranige losvoorspeler, word April se vroeë jare gekenmerk deur ‘n diepgewortelde passie vir sport, spesifiek rugby, wat uiteindelik gelei het tot vele suksesvolle hoogtepunte. Hy matrikuleer by Hoërskool Labori in Paarl in 2014. Dit was daar waar April werklik sy stempel begin afgedruk het en sy uitsonderlike talent en leierskapsvaardighede op skoolvlak se rugbyverhoog ten toon gestel het.

Hy word ook as Rugbyspeler van die jaar aangewys in sy laaste jaar op skool en boonop vaar hy goed in die Cravenweek proewe, maar as gevolg van ‘n besering, kniehalter dit sy kanse om verder te vorder.

Die jaar daarna word hy gekies in die Boland onder-19 span om deel te neem aan die Curriebeker 1ste Divisie, waar hy baie goed gevaar het.

As gevolg van die goeie spelpeil, nooi Boland hom in 2016 na die Boland Rugby Instituut, waar hy as die eerste keuse beskou was om die skrum van agter te beheer. Hy speel vir die Boland onder-20 span en na ‘n puik seisoen moes hulle die knie buig teen die Griffons onder-20 manne, dit na tawwe eindstryd wat die manne van die Wes-Kaap verloor.

“Dit was ‘n groot voorreg om vir Boland in beide ouderdomsgroepe te verteenwoordig en om my talente op ‘n provinsiale vlak ten toon te stel,” het April gesê.

In 2018 toets Colin die waters in die Westelike-Provinsie (WP) en sluit aan by sy tuisdorpklub, Paarl Rugby Voetbalklub (RVK), onder die afrigting van die ervare Herman Masimla, en speel ‘n groot rol om gekroon te word as die WP Superliga B kampioene. Hy ontvang ook in daardie jaar die Voorspeler met die beste vordering.

Gedurende hierdie tyd beywer hy homself as ‘n B-Tech (in Koste- en Bestuursrekeningkunde) student aan die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (KSUT). In sy finale jaar, in 2019, verteenwoordig hy KSUT in die Varsity Shield en maak geskiedenis om die beker te wen vir die eerste keer. April eindig ook die seisoen as een van die kompetisie se top drieëdrukkers en word by KSUT se jaareind-funksie as die Voorspeler van die Jaar aangewys.

April meld aan in 2023 by Newtons Rugby Voetbalklub en met die intrapslag na ‘n paar vriendskaplike wedstryde agter die rug sien afrigter Nazeem Jooste sy potensiaal as leier en kies hom as die eerste span kaptein.

Hy beleef ‘n betowerende seisoen en in sy eerste jaar word hy aangewys as Rugbyspeler van die Jaar en gesamentlike top drieëdrukker. Een van die hoogtepunt tydens hierdie seisoen was ‘n driekuns teen die magtige Roses United. Newtons mis egter die geleentheid om vir die Sanlam Boland Top 12 te kwalifiseer. Maar, in 2024 lyk die prentjie heeltemal anders en die span, onder die leiding van April, word as die Witsentraal liga kampioene gekroon en maak sodoende geskiedenis om vir die eerste keer in die klub se geskiedenis te kwalifiseer vir die Sanlam Boland Top 12.

Colin sê: “Dit was nie net ‘n spanpoging nie, maar die toewyding en harde werk van die klub as ‘n geheel het ‘n groot bydra tot die sukses van klub gelei. Ons kan nie die Bombela supporters vergeet nie want sonder hulle ondersteuning, veral in tye wat dinge nie altyd in ons guns gegaan het nie, het hulle ons deur gedra met hul ontwrikbare en lojale ondersteuning. 

“Ons eerste van twee doelwitte vir 2024 was om die liga te wen. Daai boksie is gecheck. Nou gaan ons vir ons die tweede een, en dit is om die Sanlam Boland Top 12 beker bo ons koppe omhoog te lig.”