’n Skrumstryd vir die fynproewers is Saterdag 04 November 2023 op die spyskaart wanneer Safcol United vir Young Hamiltons in die Sanlam Boland Top12 gasheer speel.
Safcol het verlede naweek die bom in die Bomb Squad gesit deur vir Delicious in die tweede helfte oorhoops te skrum op pad na ’n gemaklike oorwinning van 56-27.
“Verlede jaar was skrumwerk een van ons probleem-areas en ons het stappe geneem om dit aan te spreek. Dis die beste besluit wat ons kon geneem het,” sê Brendon Cloete, Safcol se afrigter.
’n Paar voorry-aanwinste het vir Safcol ’n groot verskil gemaak. Shane-Lee Kenned (loskopstut), Tyrese Peters (vaskop) en Jacquinn Ruthford (haker) het almal vanjaar by die pasaangeër in Groep B aangesluit om die voorry spiere te gee. Daarna word ’n voorry van Theodore Ntikinca, Brandon Ntoko en Leightin Lewis van die plaasvervangersbank af opgestuur.
Agterlangs ontbreek daar ook nie vlugvoetigheid nie met veral die heelagter, Connor Mahoney, wat die oog op die aanval getref het.
’n Wen oor Young Hamiltons kan vir Safcol ’n beduidende stap in die rigting van die halfeindronde wees.
“Ons en Young Hamiltons is gelyk op punte boaan die groep, maar ons is danksy punteverskil voor. Dis egter net met vier punte. Vir ons kom dit hierdie naweek in die groep op ’n halfeindstryd neer. As ons hierdie een kan wen, sal ons een voet in die deur vir die halfeindronde hê. Wat in ons guns tel, is dat ons voor ons tuisskare speel,” sê Cloete.
’n Deel van Safcol se strategie sal ongetwyfeld wees om strafskoppe in die skrums af te dwing en daardeur die telbord aan die rol te hou, maar Young Hamiltons het juis ook verlede naweek bo uitgekom in die skrumstryd in hul oorwinning van 26-17 oor Bella Vista.
Jerome Smith, afrigter van Young Hamiltons, maak die punt dat Bella Visa ’n hoogaangeskrewe skrum het. Dit was dus geen geringe prestasie om daardie faset te oorheers nie.
Soos Cloete meen hy daar is Saterdag baie op die spel.
“Dis nie ’n kritieke wedstryd nie, maar dis belangrik om momentum te behou. As ons wen, sorg ons ook dat ons nie van ander spanne se uitslae afhanklik sal wees nie,” sê Smith.
Daar was vandeesweek baie fokus op die lynstane in Young Hamiltons se oefensessies.
“Bella Vista het seker 50% van ons lynstane ontwrig. Ons het aandag daaraan gegee en daar sal op ons ingooie meer afwisseling wees,” sê Smith.
Hy verwag ’n yslike skrumstryd, maar is stilletjies vol selfvertroue.
“Laat hulle maar die geraas maak. Ons gaan kwansuis rondgestoot word en dis fine! Ek is gemaklik met ons skrumwerk. Dis nie vir my ’n kopseer nie. Ons het ook ’n Bomb Squad!”
Nes die geval met Safcol is, glo Smith ook dat hy ’n afgeronde span tot sy beskikking het.
“Ons voor- en agterspelers vul mekaar baie goed aan. Ek dink ons is ’n gebalanseerde span,” sê hy.
Dan hierdie waarskuwing: “My agterste driehoek het nogal baie, baie spoed, hoor.”