Jonathan Fredericks, afrigter van Bella Vista, ken die gesegde van ‘só naby maar tog só ver’ al te goed nadat die Top12-titel verlede jaar met ’n skopstryd deur hul vingers geglip het.

Wat dit moeiliker gemaak het om te verwerk, is die verbroude kanse wat daartoe gelei het dat Saldanha Bay met die titel wegstap. Die telling ná bykomende tyd in die eindstryd was 9-elk, wat beteken het dat die wenner deur ’n skopstryd bepaal moes word.

“Ek het dié week gesê dat skoppe dié jaar nie nodig gaan wees nie, want ons sal meer drieë in die eindstryd druk,” grap hy.

Fredericks voeg by dat sy span se voorbereiding “op koers” is voordat hul veldtog Saterdag met ’n tuiswedstryd teen Delicious begin.

“Ons het verlede Saterdag ’n spanbou gehad en in die week voor die wedstryd is die fokus net op struktuur. Ons gaan dit hekkie vir hekkie, wedstryd vir wedstryd neem,” sê hy.

Fredericks meen die hartseer van verlede jaar se eindstryd kan in ’n positief omskep word met die oog op vanjaar se veldtog.

“Ons het dit nie eintlik as ’n verloor gevat nie. Daar was geleenthede in die 80ste minuut en ook in bykomende tyd wat ons nie benut het nie. Ons het vir mekaar gesê dat ons daaruit sal leer en die foute nie gaan herhaal nie,” sê hy.

Bella Vista kan dié seisoen voor- én agterlangs sterker wees. Die veelsydige stut John Ross – voorheen van Roses United – het by hulle aangesluit. Marno Saunders, ’n aanvallende losskakel wat weens ’n besering nie verlede jaar gespeel het nie, is ook slaggereed. John-Lee Skippers se goeie spelpeil vir die tweede span het ook Fredericks se oog getref en hy kan moontlik op die vleuel diens doen. Bella Vista het dié seisoen ook ’n kondisionerings-afrigter, wat beteken dat die span fiks gaan wees.

“Ons is lekker gekondisioneer en ek dink ons het ook ’n sterker groep. Daar’s ook ’n dringendheid om te wen. Ons was daar gewees en weet wat ons moet doen om oor die laaste hekkie te kom,” sê Fredericks.

Hy verwag nie teenspoed teen Delicious nie.

“Ons het hulle verlede jaar op hul tuisveld met vyf punte geklop, so ek sien nie dat hulle ons op ons s’n sal stuit nie. Ons het net daai edge,” sê hy.

Al 33 Sanlam Boland Top 12 wedstryde gaan regstreeks op die Boland Rugby webtuiste uitgesaai word.