Back to back Currie Cup 1st Division Champions (2023 & 2024)

THE HOUSE OF BOLAND RUGBY

TOGETHER WE STAND

PLAY AND LIVE WITH CONFIDENCE

INSPIRED BY OUR HISTORY

BOLAND DAMES

Foto: Wesbank RFC se deftige agterlynspeler, Gavern Skippers Foto krediet: T-Joyous Photography

John Booysen, assistent afrigter van Robertson Town, glo hulle sal vir Dashton Wellman en Gavern Skippers in Wesbank se agterlyn fyn moet dophou wanneer dié spanne Saterdag in die halfeindronde van die Sanlam Boland Top12-reeks kragte meet.

Wellman, Wesbank se kaptein en losskakel, word deur Booysen as “absoluut briljant” beskryf.

Foto: Generaal van Wesbank RFC, Dashton Wellman gaan fyn dopgehou word. Foto: T-Joyous Photography

“Sy taktiese skopwerk is goed en hy het verbysterende vaartversnelling. Jy moet hom nie ’n kat se kans gee nie. Skippers, hul buitesenter, is ’n baie skeppende speler. Hulle het ander ouens wat ook vrae aan ons sal stel, maar ons is beslis reg om met ’n teenvoeter vorendag te kom.”

Booysen wil volhard met die gestruktureerde rugby wat hulle die groepfase onoorwonne laat afsluit het. Hy is glad nie ’n voorstander van individualisme nie.

Foto: Robertson Town assistent afrigter, John Booysen. Foto krediet: Jayden Van Der Merwe

“Ons het nie spelbrekers soos byvoorbeeld Connor Mahoney van Safcol nie. Ons het egter spelbrekers in elke situasie. Ons doen alles binne spanverband. Die span kom bo alles,” sê hy.

Booysen wys daarop dat die suksesvolle Worcester Villagers en Roses United-spanne van die onlangse verlede in gestruktureerde rugby eerder as vrygeestige chaos gesetel was.

“Sodra jy gestruktureerde rugby in die Boland speel, is jy suksesvol,” sê hy.

“Meeste van die Boland-ouens hou can chaos. Dis hoekom ons die beste klubkompetisie in Suid-Afrika het, maar die probleem is dat ons juis daarom nie op nasionale vlak in die Gold Cup ons man kan staan nie.

“Dít hou vir my die sleutel – struktuur teenoor die chaos-rugby wat meeste afrigters in die Boland opdis.”

Booysen voeg by dat hy nie ’n evangelie preek van spelers in dwangbuise plaas nie.

“Ek hou van die gedagte om jouself uit te leef, maar as jy binne ’n struktuur speel, weet die speler wanneer en waar hy die bal gaan kry,” sê hy.

“Dis nie dat jy met vooropgestelde idees moet gaan speel of vier fases vooruit moet beplan nie. Dis glad nie wat ek sê nie. Jy speel nog altyd die situasie, maar dis belangrik dat jy elke geleentheid moet kan aangryp. Jy moet binne die chaos orde kan skep.”

Dat Booysen se metodes tot dusver in die Top12 werk, ly min twyfel. Drie van die vyf oorwinnings was wel broekskeur – met ’n punt teen Saldanha Bay (25-24), twee teen Roses United (32-30) en ses  teen Darling (30-24). In hul ander wedstryde het Robertson die Eagles met 77-36 kafgedraf en vir Hawston met 45-35 verslaan.

Hy sê dat sy span sielkundig sterk is en nooit tou opgooi nie.

Terselfdertyd is die besef daar dat hulle tot die uiterste toe beproef sal word deur Wesbank.

“Dis belangrik dat die ouens wat ons spel dryf op kritieke tye die regte besluite neem. Klein oomblikke kan bepalend wees. Veral teen ’n span soos Wesbank. Hulle is vlymskerp agter en mededingend in die skrums en lynstane,” sê Booysen.

“As ons generaals die regte besluite neem oor wanneer en waar ons gaan aanval, en watter spasie ons gaan aanval, en ons taktiese skopwerk in die kol is, behoort ons goed te vaar.”