Back to back Currie Cup 1st Division Champions (2023 & 2024)

THE HOUSE OF BOLAND RUGBY

TOGETHER WE STAND

PLAY AND LIVE WITH CONFIDENCE

INSPIRED BY OUR HISTORY

BOLAND DAMES

Dit gaan ‘n geval van die spreekwoordelike ‘eight-pointer’ wees wanneer Robertson Saterdag vir Hawston gasheer speel in die Sanlam Boland Top12-reeks.


Robertson is ná drie rondes onoorwonne met 14 punte, terwyl Hawston op 10 is nadat hulle verlede naweek teen Roses United vasgeval het. Wen Roberston, sal hulle as’t ware twee wenne voor Hawston en goed op koers na die halfeindronde toe wees.
Dis ook nie al wat vir Robertson motiveer nie. Hulle het in 2016 en 2019 uitklopwedstryde teen Hawston verloor.
“Ons het ‘n appeltjie te skil met hulle,” sê John Booysen, Robertson se afrigter, met ‘n lag.
“Ons skuld hulle een. Ek het so ‘n gevoel hier diep binne my nerwe dat ons hierdie jaar ‘n goeie kans staan om hulle ‘n go te gee.”
Booysen maak nie ‘n geheim daarvan nie dat hulle vir Hawston in die skrums wil aanval. Dis ‘n faset waar Roses United verlede naweek oorheersing teen Hawston gekry het.
“Ons het ‘n goeie kombinasie van voor- en agterspelers. Ek dink ons sal goed kan skrum. Ek het gekyk hoe hulle ‘n bietjie teen Roses sukkel. Daarteenoor het ons goed teen Roses opgeweeg. Ons sal momentum in die skrums probeer kry,” sê Booysen.
“Hulle is goed van hul bal af in die lynstane. Dawid Gerder is absoluut briljant daar. Branden Hunter, hul kaptein, is ‘n derduiwel in die vaste los. Hy weet hoe om ‘n bal te steel. Ons gaan dus klinies by die afbreekpunte moet wees.
“Wesley Spandiel is ook ‘n meester van die aftrap en het geweldige spoed. Hawston is een van daai katjies wat jy nie sonder handkoene kan aanpak nie!”
Booysen meen sy span het voorlangs baie skietgoed. Hy verwys na spelers soos die veteraan-stut Jasherie Kariem en flank Freginald Africa as manne wat se ervaring deurslaggewend kan wees.
“Hawston kan hardloop soos hulle wil. Ons benadering is slow poison. Ons is nie haastig om die bal na buite te skuif nie,” sê hy.
Warren Johnson, afrigter van Hawston, besef hoe belangrik hierdie wedstryd is nadat hulle teen Roses United vasgeval het.
“Ons skrumwerk was ‘n totale gemors en ons taktiese skopwerk nie goed nie. Roses kon van die swak skoppe teenaanvalle loods. Hulle was ook meer aggressief by die afreekpunte as ons,” sê hy.
Die positiewe vir Johnson is dat dit binne sy span se beheer is om sake reg te stel.
Robertson se drie wenne ten spyt, glo Johnson nie dat hulle sonder swak plekke is nie. Dis veral so as in berekening gebring word dat Robertson hul drie wedstryde tot dusver met onderskeidelik 1, 2 en 6 punte gewen het.
“Ek het opgelet dat hulle ‘n lekker voorsprong bou en dan spanne weer terug laat kom in die wedstryd,” sê Johnson.
“Ons moenie toelaat dat hulle ‘n voorsprong bou nie. Ons moet hulle uit die staanspoor aanval. Hulle lê baie slap in die tweede helfte wanneer hulle ‘n voorsprong gebou het.
“Ons het onsself in ‘n posisie laat beland waar ons móét wen. Saldanha brom ook weer hard. Hierdie wedstryd is vir ons baie belangrik.”