Back to back Currie Cup 1st Division Champions (2023 & 2024)

THE HOUSE OF BOLAND RUGBY

TOGETHER WE STAND

PLAY AND LIVE WITH CONFIDENCE

INSPIRED BY OUR HISTORY

BOLAND DAMES

Die lengte en breedte van die Boland as ’n rugbyprovinsie maak dit onvermydelik dat lang reistogte sinoniem met die Sanlam Boland Top 12-reeks sal wees.

Jy sal egter nie spanne hoor kla nie. Luister maar net na Warren Johnson, afrigter van Hawston, wat se span verlede Saterdagoggend 170 kilometer gery het om vir Darling met 40-39 op sy tuisveld te gaan klop. Ná die wedstryd moes hulle weer die reistog terug huis toe aanpak.

“Die manne vang lekker gees op die bus. Hulle praat en moedig mekaar aan. Ons geniet dit om op die pad met die manne te wees, want dis nie aldag dat almal saam is nie. As die wen soet smaak, word daar op die pad terug lekker gekuier! As dit nie goed gaan nie gesels ons oor wat ons kan doen om sake in die volgende wedstryd reg te stel,” sê Johnson.

Vir hom was die oorwinning kosbaar.

“As jy in hierdie kompetisie wil deurdruk, sal jy ’n wedstryd of twee weg van die huis moet wen. Ons het die een teen Darling geteiken,” sê hy.

Hoe lekker die samesyn ook al op die pad is, sal Hawston dankbaar wees vir die tuisveldvoordeel wat hulle Saterdag teen ’n begeesterde Eagles-span gaan hê. Die Vanrhynsdorp Eagles moet altesame 775 kilometer vir hierdie wedstryd reis – die mees vermoeiende reistog wat daar in vanjaar se Top12 gaan wees.

“Hulle het ’n groot pak voorspelers, maar ons het ’n plan vir hulle,” sê Johnson.

“Ons het tuisveldvoordeel so sal varser wees. Ons sien uit na die uitdaging en glo dat ons opgewasse sal wees.”

In ’n ideale wêreld sal die Eagles Vrydagaand iewers oornag, maar hul afrigter, Lindon Kameel, sê dat hulle nie in sak en as sal wees as hulle Saterdagoggend eers die lang reistog van Vanrhynsdorp af sal moet aanpak nie.

“Ons probeer soveel as moontlik om almal saam op ’n bus te kry, maar met tye moet ons in minibus-taxi’s ry met 15 ouens in elke een. Daar word op die ritte lekker gees gevang, gesing en gesels. Dis ‘n gulde geleentheid om spangees te bou,” sê hy.

Kameel het op hierdie stadium geen ander keuse as om die blink kant bo te hou nie. Die Eagles het verlede Saterdag op hul tuisveld met 22-32 teen Roses United verloor. Nog ’n nederlaag sal dreig om hul veldtog te laat ontspoor.

“Ons is nie in die [Sanlam Boland] Top 12 om nommers op te maak nie, ons is daar om mee te ding,” sê Kameel.

“Ons het teen Roses ’n geleentheid deur ons vingers laat glip. Die wedstryd teen Hawston is belangrik vir ons om in die wedloop te bly.

“Ons moet baie meer gedissiplineerd wees in die uitvoer van ons wedstrydplan en ons kanse benut. Teen Roses het ons in gunstige posisies op die veld foute gemaak.”

Kameel verwag dat Hawston die tempo in die wedstryd sal wil versnel.

“Hawston speel baie vinnig en ek glo hulle sal by daardie plan hou. Hulle het ook ’n groot pak voorspelers. Ons dissipline op die verdediging gaan baie goed moet wees,” sê hy.

Kameel meen die Boland Rugbyunie is op ’n goeie plek met swaargewig-borge soos Sanlam, Vuma, Tekkie Town, Santam, en Umbro wat aan boord gekom het.

“Die borge maak ’n massiewe verskil. Danksy die borge wat ingekoop het, het Boland reëlings met die klubs aangegaan waar ’n toelaag betaal word vir die wedstryde waar jy die verste moet reis,” sê hy.

“Daar is ook danksy die borge ’n platform geskep vir die regstreeekse uitsaai van die wedstryde. Die spelers kry dus blootstelling. Ek moet vir Boland ’n pluimpie gee dat hulle sulke goeie borge aan boord gekry het.”